Agri Wes-Kaap bring plan vir misdaad

Landbouweekblad
Deur Liezl Vercueil
9 September 2016
Agri Wes-Kaap stel tans ’n strategiese plan aan rolspelers voor vir die bekamping van misdaad.
Agri Wes-Kaap lê tans sy strategiese plan vir misdaadbekamping aan verskeie rolspelers voor om hul steun te werf. Die plan is deur die organisasie se beleidskomitee vir landelike veiligheid opgestel en sal hopelik binnekort aan die provinsiale wetgewer voorgelê word.
Die betrokke beleidskomitee is in 24 uur-kontak met plaaswagte, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), affiliasies en ander rolspelers en doen gereelde misdaadopnames om misdaadtendense en -syfers aan produsente en sleutelrolspelers te kommunikeer. Dit is op grond van dié inligting dat Agri Wes-Kaap sy strategiese oplossing saamgestel het.
Mnr Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê maatskaplike verval het gelei tot ’n situasie waar daar geen respek vir die wet, wetstoepassers, gesagstrukture en dissipline in huishoudings en gemeenskappe is nie, luidens ’n verklaring van die groep.
Volgens Opperman lê die oplossing in die integrasie van die verantwoordelikhede van alle rolspelers om die misdaadsiklus teen te werk. “Gesamentlike, geïntegreerde en gefokusde optrede is nodig om waardes, respek en integriteit na gemeenskappe terug te bring. Die mening dat dit slegs die SAPD se rol en taak is om misdaad te bekamp, is agterlosig en naïef.
Volgens die mees onlangse misdaadstatistiek het veediefstal in die Wes-Kaap met 3,6% toegeneem en, sou daar amptelike statistieke beskikbaar wees, meen Agri Wes-Kaap dat dit sou toon dat vrugte- en groentediefstal, asook die diefstal van landbou-infrastruktuur ook gestyg het.
“Sommige produsente in die Wellington-omgewing het al byvoorbeeld totale sitrusboorde tot niet maak omdat vrugtediefstal dit onmoontlik maak om volhoubaar daarmee voort te gaan,” lui die verklaring.
“Op Philippi op die Kaapse Vlakte, wat al vir dekades met drie groente-oeste per jaar ’n belangrike rol in die voedselsekerheid van die provinsie speel, maak produsente voorsiening dat minstens 10% van hul oes waarskynlik gesteel gaan word, deesdae helder oordag. Kaapse wetstoepassers het al na vrugte- en groentediefstal as “petty crimes” verwys – ’n aanduiding van die totale onkunde wat voedselsekerheid, bekostigbare voedsel en die rimpeluitwerking van misdaad op die ekonomie, betref.
“Die koste van die skade wat misdadigers aan boorde, wingerde en lande aanrig, word nog nie bygereken by die skade aan die verlies van produkte nie. Ook nie die miljoene rande se skade wanneer pompe, heinings, spilpuntwiele, kabels, pype en ander infrastruktuur gesteel word of wanneer produkte skade ly omdat besproeiingsiklusse in kritieke produksietye as gevolg van diefstal onderbreek word nie. Geweldsmisdade op plase en in landelike gebiede neem ook toe, wat uiters kommerwekkend is.”

Tags: