Agri Wes-Kaap: Landbou moet sy waterdeel kry om ramp te voorkom

Maroela Media
31 Julie 2017
Herman Toerien

Die droogte in die Wes-Kaap neem kritieke afmetings aan, nie net vir die stad Kaapstad nie, maar die landbou is ook diep in die knyp. In hierdie eerste aflewering van artikels oor die droogte en sy uitwerking asook toekomsbeplanning het Maroela Media met Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, gesels.
“Selfs al raak die damme weer vol en grondwater is weer soos dit moet wees, gaan dit nie die probleem oplos nie. Die waterbehoefte in die Wes-Kaap styg, en die landbou, met die kleinste gedeelte van die watertoediening, het sy deel nodig,” sê Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
“Agri Wes-Kaap het reeds in Oktober 2015 gewaarsku dat die Wes-Kaap op ʼn waterkrisis afstuur wat dringend bestuur moet word. ʼn Geruime tyd het intussen verloop waar daar doeltreffend op die waarskuwing ag geslaan en doeltreffende planne ingestel kon word.”
Opperman het gereageer op navrae van Maroela Media oor die uitwerking van die inperking van besproeiingswater om meer water vir die dorstige Kaapse metropool te bekom.
“Die provinsie se water moet beter bestuurstatus kry sodat die Wes-Kaap nie voortaan in soortgelyke situasies as tans beland nie. Ons is besig om ons ondergang te bestuur soos wat water tans bestuur word. Ons is nou in ʼn erger posisie as dieselfde tyd verlede jaar, en as ons nie binnekort goeie reën kry nie, gaan dit nóg erger raak. Die behoefte aan water in die provinsie is enorm, maar ons sien nie ʼn waterplan om almal te help nie: alle industrieë, die totale ekosisteem, alle munisipaliteite, landbou, almal. Die departement van water en sanitasie het nie ʼn werkbare plan wat ingestel kan word nie.
“In die Wes-Kaap is landbou se bruto-waardetoevoeging R18,6 miljard per jaar. Die Wes-Kaap produseer meer as 50% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer, met die Europese Unie as een van die grootste bestemmings, en amper 75% van die buitelandse wynverkope van meer as R5 miljard. Landbou dra nasionaal ongeveer 2% tot die BBP by, en die Wes-Kaap se gedeelte van hierdie 2% is 22,6%, want ons produseer hoëwaarde-uitvoergewasse.
“Die Wes-Kaap se landbou-vooruitsigte kan drasties verbeter as ons nog harde reënbuie kry om ons damvlakke drasties te lig. Die afgelope winterreën het weer nie die watervoorraad gelewer soos wat dit moes wees nie.
“Die watertekort is enorm en die verbruiker moet dit weet, want dit raak die verbruiker ook. Agri Wes-Kaap is bekommerd oor die uitwerking wat die droogte op lang termyn op die provinsie se sterk uitvoerbedrywe gaan hê wat water kritiek nodig het vir produksie, soos ons graan-, wingerd- en vrugtebedrywe.
“Wat die graan betref: al die graanproduserende gebiede in die provinsie kort dringend nog reën en produsente hoop vir ʼn laat winter met reën tot nog laat in September.
“Geen na-oeswater is vir ons vrugteprodusente beskikbaar nie en dit gaan ʼn invloed op volgende jaar se oes hê. Die vroeë winter was vanjaar in baie gebiede baie warm. Daar was ook min sneeuval tot op hede, wat beteken produsente het minder koue eenhede gehad. Omdat baie produsente verlede jaar weens die droogte genoodsaak was om na-oeswater vir die voor-oesfase te gebruik, kan dit ʼn invloed op die vrugte hê.
“Ons krisis bly egter steeds weiding. Agri Wes-Kaap help steeds produsente in die twee rampgebiede (Weskus-distrik en Sentraal-Karoo) met droogtehulp uit, maar al hoe meer gebiede raak in die moeilikheid en het ook nou hulp nodig. Die Eden-distrik het veevoer ook nou kritiek nodig, sowel as produsente in die Knysna- en die Riversdal-omgewing waar brande weiding totaal vernietig het. Ruvoer is al maande lank nie meer in die Wes-Kaap beskikbaar nie. Tot dusver het Agri Wes-Kaap 5 500 ton veevoer aan produsente gelewer, teen ʼn koste van R4 miljoen (die voer en kontant was skenkings aan ons droogtehulpfonds waarvoor ons baie dankbaar is, maar dit is uitgeput). Dit is baie duur om voerskenkings uit die noorde na die Wes-Kaap te verskuif, so ons het finansiële bydraes kritiek nodig.
“Die bestuur van die provinsie se huidige waterprobleme vereis kundigheid en bevoegdheid, nie net ter wille van die landbousektor nie, maar ook vir elke inwoner van die provinsie wat aan drastiese waterbeperkings onderhewig is en nie besef wat die uitwerking gaan wees as die landbou se water gesny word nie. Dit kan ekonomiese gevolge vir die bedryf inhou, met gepaardgaande werkskeppingsprobleme, die inkorting van die waardeketting wat gaan sukkel om insette te kry en fiskale gevolge met verliese vir die staatskas en munisipaliteite.”
• Lesers wat graag ʼn bydrae wil maak aan die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds kan ʼn e-pos na johanne@awk.co.za vir meer inligting stuur of besoek Agri Wes-Kaap se Facebook-blad vir meer besonderhede.

Tags: