‘Boere is onder skoot’

VOOR’94: ‘MAKLIKER WINS OORSEE AS IN SA’

Deur Alicestine October Woensdag 04 Februarie 2015 05:00

Die mite dat apartheid goed was vir Afrikaner-besighede is Dinsdag deur dr. Johann Rupert, hoof van die Rembrandt-groep, as bog afgemaak.

Hy het tydens die F.W. de Klerk-stigting se konferensie dié en ander kwessies van die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope 25 jaar gepak.

Rupert, De Klerk en voormalige adj.pres. Kgalema Motlanthe was gassprekers op dié konferensie ter herdenking van die 25ste jaar sedert De Klerk oudpres. Nelson Mandela se vrylating en die opheffing van die verbod op politieke organisasies aangekondig het.

‘Beter in die buiteland’

“Ons het besighede hier en in die buiteland gehad en die besighede in die buiteland het baie beter gedoen.

“Daar was die opbrengste 10% tot 12% beter as in Suid-Afrika,” het Rupert gesê.

Volgens hom is die vraag nie hoe om rykdom te verdeel nie, maar eerder hoe rykdom geskep kan word – spesifiek met ekonomiese groei.

“Ek is nie skaam om te sê ek het my geld . . . (ook) ná 1994 gemaak nie.

“Ons het (miljarde) oorsee gemaak en (nagenoeg) R80 miljard in dividende terug na Suid-Afrika gebring.”

Hy het De Klerk bedank vir die “ongewilde stap” wat hy 25 jaar gelede gedoen het en dat “Afrikaners hulself vir die eerste keer daarna weer in die oë kon kyk”.

“De Klerk het geweet hoe ongewild sy besluit sou wees, maar hy het dit gedoen omdat dit die regte ding was om te doen.”

Rupert het ook die belang van voedselsekerheid en die rol van boere benadruk.

“Minister Senzele Zokwana (minister van landbou, bosbou en visserye) is vir alle praktiese doeleindes eintlik minister van voedselsekerheid,” het hy gesê.

“Wanneer kos hier van die tafel verdwyn, sal daar ’n volle revolusie wees.”

Hy het gesê boere is vanuit verskillende fronte onder skoot en het veral die lat ingelê oor die lot van boere wat onveilig voel op plase en moet meeding met landboumarkte oorsee wat behoorlik deur hul regerings gesubsidieer word.

“Ek is self ’n boer. Dit is nie vir sissies nie.

“Hulle word gemoor, daar is geen sekuriteit nie en hulle is geneig om gewelddadig aangeval te word en hul eiendomsreg word bedreig.”

[button_green animation=”fadeInUp” link_url=”http://www.netwerk24.com/nuus/2015-02-04-boere-is-uitgelewer-s-rupert” title=”Lees meer” target=”_blank”]

Tags: