Brandstigting, nalatigheid ‘ewe erg’

Netwerk 24
Abrie Burger 15 Januarie 2017
Alle brande, behalwe vir die seldsame voorvalle waarby weerlig betrokke is, word deur mense gestig, sê JP Smith van die Kaapstadse stadsraad.
“Die vraag is net of dit kwaadwillig is en of dit deur nalatigheid begin is. Albei antwoorde is onaanvaarbaar,” sê Smith, burgemeesterskomiteelid
vir veiligheid.
Smith sê ondersoekers kyk nou of die Kaapse brande van die afgelope paar weke, insluitend die Helderbergbrand, waar die grootste skade gely is, opsetlik begin is.
Hy sê die Helderbergbrand, wat ongeveer R60 miljoen se skade aangerig het, was “dubbeld so vernietigend” soos die een wat die Suid-Skiereiland twee jaar gelede geteister het.
Destyds is 5 000 ha fynbos verwoes nadat ’n brand in die berge by Muizenberg begin het en na Noordhoek, ¬Tokai en Houtbaai versprei het.
Die stadsraad het Vrydagoggend gesê die Helderbergbrand is uiteindelik ná nege dae geblus.
Smith sê die Simonstadbrand, wat die afgelope week uitgebreek het, was nie so erg nie omdat die “wind saamgewerk het”. Hy sê, was dit nie vir die gunstige windtoestande nie, kon die brand soortgelyk aan dié van twee jaar gelede gewees het.
Carl Opperman, Agri Wes-Kaap se uitvoerende hoof, het ook sy kommer uitgespreek oor brande wat óf deur agtelosigheid óf doelbewus gestig is.
Opperman sê die verwoestende brande sedert die einde van verlede jaar in die Wes- en Suid-Kaap plaas die landbousektor onder groot druk.
“Miljoene rande se wingerd, boorde en infrastruktuur is vernietig. Dit plaas ekonomiese volhoubaarheid onder druk en het ’n rimpeluitwerking op die hele gemeenskap,” sê hy.
Hy sê dit is elke landsburger se plig om te verseker sy omgewing en voedselbronne word bewaar. Opperman versoek dat enige bedreiging onmiddellik aan die owerheid gekommunikeer word.
Boonop sal die Wes-Kaapse brandseisoen nog drie maande duur, sê ¬Colin Deiner, die Wes-Kaapse hoof
van rampbestuur.
Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het brandbestryders bedank vir hul toewyding.
“Ons sou diep in die moeilikheid ¬gewees het as dit nie vir hulle was
nie,” sê Bredell.
Die afgelope week het ’n veldbrand ook drie rondawels by die Goudini-spa in Rawsonville beskadig. Die Du Toit-huis, waar die digter Totius destyds gewoon het, en ’n restaurant is Maandagnag buite die Paarl in puin gelê.

Tags: