Landbou is anker van handelsbalans

Die Burger 7 September 2016
Vida Booysen
Dr. Roelof Botha
Suid-Afrika se handelsbalans sou sedert 2013 beroerd daar uitgesien het as dit nie was vir die landbousektor en voedselvervaardigers nie.
“Hierdie sektore het die anker met hul skitterende uitvoervertoning verskaf,” het dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van PwC, op die jaarvergadering van TLU SA gesê.
Hy waarsku Afrika as geheel hou aan om agteruit te boer en landbouproduksie hou nie tred met die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) nie.
“Suid-Afrika speel tans ’n belangrike rol in die vermindering van voedselonsekerheid in heelwat Afrikalande.”
Hy het die landbousektor lof toegeswaai vir die wyse hoe hy sy strategiese belang vir die land ter harte neem. Hy sê landbou se direkte en indirekte bydrae is veel groter as die 2,7% van die bruto binnelandse produk (BBP) wat weergegee word.
“Landbou bly steeds die grootste enkele bron van werkskepping in die land, die sektor is strategies belangrik vir voedselsekerheid en ’n belangrike bron van buitelandse valutaverdienste.”
Landbou se handelsbalans het gedurende die eerste ses maande van 2016 die skittervertoning van die vorige twee jare voortgesit, sê Botha.
“Hoewel die gemiddelde maandelikse invoer van primêre landbouprodukte weens die droogte met 30% toegeneem het, was uitvoer ook hoër en is ’n surplus van R13 miljard aangeteken.”
Hierby het uitvoer van voedsel ook in die eerste helfte van 2016 toegeneem en ’n handelsurplus van net minder as R5 miljard aangeteken.
Botha sê hoewel die landbousektor se BBP-groeisyfers vir die tweede kwartaal van 2016 met 0,8% ingekrimp het, is dié klein inkrimping steeds bemoedigend.
“Dit wil voorkom asof toestande in die landbousektor gestabiliseer het. Hoewel die lente- en somerreëns uiteindelik die laaste sê sal hê, blyk die kanse van veel hoër oeste as verlede jaar goed te wees.”
Nóg ’n bemoedigende aspek is die herstel van die omset uit voedsel en drank in die sektor vir restourante en kitskos.
“Ná ‘n effense daling (0,4%) in die eerste ses maande van verlede jaar het dié omset tussen Januarie en Junie vanjaar met 1,8% toegeneem (in reële terme) tot ‘n vlak van R19,6 miljard.”
Botha verwag dat inflasie wel binnekort kan begin daal. Hy skryf dit toe aan dalings in heelwat landbouprodukpryse, gepaard met ‘n wisselkoers (rand/VSA-dollar) wat sedert Januarie met sowat 18% verstewig het.
“Laer inflasie behoort die opwaartse rentekoerssiklus stop te sit, wat verdere verhogings in die koste van landbouers se bedryfskapitaal sal stuit.”

Tags: