‘Landbou moet spelbreker vir SA wees’

Landbouweekblad
Deur Jan Bezuidenhout
28 Julie 2016
Die landbou moet die “game changer” in die SA ekonomie wees want dit het die kennis, die vaardighede en beslis die landbouleiers om dit te kan bereik.
ʼn Jong boer en landboustudent van Riversdal het vir een van die hoogtepunte op Agri Wes-Kaap se kongres gesorg met sy toespraak: “Wie besit die toekoms?”.
Mnr. AJ van Wyk, ‘n eerstejaar aan die Universiteit Stellenbosch, was ‘n genooide spreker op die Agri Wes-Kaap-kongres. Hy is die vierde geslag wat op die familieplaas boer. “Ek het al van kleins af ‘n liefde en passie vir die landbou, veral vir die vee op die plaas. Ek kon my liefde vir die landbou uittleef by die Hoër Landbouskool Oakdale,” het hy gesê.
“Wat verwag ek van die landbou in die toekoms? Óf, wat verwag die landbousektor van my, want een ding is seker, die landbou is een van dié belangrikste en mees invloedrykste beroepsektore in die toekoms van hierdie land. Dit maak dit net al hoe meer duidelik dat ons ʼn eerstewêreld-landbouland is, maar ons funksioneer in ʼn derdewêreldland se ekonomie.”
Van Wyk sê hy meen dat boere nie transformasie en bemagtiging in die landbou as ʼn bedreiging moet sien nie. Ons moet hierdie faktore omskep in geleenthede, en dit eerder as ʼn uitdaging sien wat op die speelveld van ons bedryf voorkom, want dit is hiér en dit is die realiteit wat ons sal móét hanteer. Hy het Abraham Lincoln aangehaal: “The best way to predict the future is to create it.” Dit is egter makliker gesê as gedaan, het hy gesê.
Tegnologie is reuse-faktor
“Hoe skep ons die toekoms van die landbou? Die eerste faktor wat ongetwyfeld ʼn reuse-impak sal hê is die aanwending van tegnologie in die daaglikse bestuur van die boerdery. Tegnologie is eintlik die hoofdryfveer van die veranderinge en transformasieprosesse wat ons sien in die landbousektor van vandag.
“Dit klink dalk nog bietjie onwerklik maar ek kan nie help om te wonder of ons nie dalk stadig besig is om te beweeg na ʼn tydperk waar die driedimensionele drukker (3D-drukker) in ons skuur die trekkeronderdeel binne ʼn paar minute sal sny sonder dat ons dae of selfs maande daarvoor op bestelling moet wag nie. Die nuwe generasie se aanvaarding van tegnologie en bereidwilligheid om dit te implementeer en te bemark, maak dit ʼn beduidende spelbreker.
Wat wel belangrik is, is dat ons as jong boere moet besef dat ons eers die ou konsep van boerdery en manier van boer moet optimaliseer, verstaan én erken, voordat ons nuwe konsepte van tegnologie kan implementeer.
Skep geleenthede
Dus moet ons moeite doen om geleenthede te skep waar daar doeltreffende wisselwerking tussen die twee landbou generasies sal wees, sodat beide generasies by hierdie transformasie sal baat en sodat die landbou sal kan groei en aanpasbaar sal kan wees vir die veranderinge wat die toekoms vir ons inhou.
ʼn Ander faktor wat ʼn uiters belangrike rol gaan speel in die vorming van die toekoms van landbou is leierskap. “Ek bedoel nie net van individuele leiers wat vir ons sektor moet opstaan nie, ek wil dit wyer vat en sê dat die landbou die leiersektor in die ekonomie moet wees. Ons wil hê dat die landbou, die “game changer” in Suid-Afrika se ekonomie sal wees want ons het die kennis, die vaardighede en ons het beslis die landbouleiers om dit te kan bereik.
“Oor die beeld van die landbou lê harde werk voor. Huidige negatiwiteit oor die landbou en landbouvooruitsigte skep allermins vertroue by ons jeug.
Werkgewers se verantwoordelikheid
“Ons het ook ʼn morele verantwoordelikheid as werkgewer. Elke landbouer sal ʼn leier en gemeenskapskepper moet wees. Ja ons sal moet uitreik, betrokke wees en gemeenskappe moet help ophef.
“Grondhervorming gaan ook ʼn groot uitdaging wees en ons sal opnuut planne moet maak, moontlik op ons eie plase met ons eie mense, wat kan bydra tot die sukses van ons eie besigheid. Daarmee saam sal ons moet voorsien in ʼn waardige lewenstandaard aan ons eie personeel wat ook ons menswaardigheid as landbouers nooit in gedrang sal bring nie.
“Ons het al baie mense hoor sê die ‘jeug van vandag’ en verwys na ʼn negatiewe konnotasie. “Ek is opgewonde oor die jeug. Daar is potensiaal, sterk waardesisteme, dryfkrag, belangstelling in tegnologie en vernuwing. Ons moet hul belangstelling prikkel en die landbou ʼn aantreklike beroepsrigting maak. Hulle het ʼn rol om te speel en ʼn verskil om te maak.
“Dan vra ek myself die vraag: Wie besit die toekoms? My antwoord is: Wie anders as ons wat vandag hier sit”.

Tags: