Landbouers sal rommelstatus se pyn erg voel

Netwerk 24
Riana de Lange 16 Oktober 2016
Een van die eerste en seerste maniere waarop die landbousektor die pyn sal voel as Suid-Afrika se soewereine kredietgradering in Desember tot rommelstatus verlaag word, is deur die brandstofprys.
Die bedryf se brandstofrekening beloop jaarliks miljarde rande en ’n afgradering tot rommelstatus sal die rand aansienlik laat verswak, wat onmiddellik ’n impak op die brandstofprys sal hê, sê Johannes Möller, president van Agri SA. Dit sal vir boere nog ’n terugslag wees te midde van die ergste droogte in sowat 30 jaar.
Möller het op Agri SA se kongres in Centurion aan Rapport gesê hoewel ’n swakker wisselkoers goed is vir uitvoerders, is dit aan die ander kant sleg vir diegene wat duur masjinerie en toerusting invoer.
’n Onstabiele wisselkoers is eintlik ’n groter euwel as ’n swak geldeenheid omdat mense wat invoer, hulle verskans teen ’n swakker rand en dié wat uitvoer hulle verskans teen ’n sterker geldeenheid, met die produsent wat aan die kortste end trek.
Landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) is sowat 2,5% en die sektor is verantwoordelik vir 8% van die land se indiensneming. Die bydrae van die totale landbou-waardeketting tot die BBP is konserwatief geskat 17%, sê Möller.
In die lig hiervan het Agri SA vir Pravin Gordhan, die beleërde minister van finansies, en die tesourie oortuig dat die organisasie ’n rol kan speel in pogings om ’n afgradering te keer.
Agri SA is een van sowat 60 groot maatskappye – waarvan baie in die landbou-waardeketting is – wat by die pogings betrokke is.
Ek wil met die boere praat, want as hulle bel, is dit weens nood en nie oor administrasie nie.
Mike Mlengana, direkteur-generaal van landbou
Möller het in sy presidentsrede aan die sowat 300 afgevaardigdes gesê Agri SA beskou Gordhan as ’n sleutelrolspeler in die ekonomie. Die organisasie sal voortgesette steun aan hom gee omdat sy inisiatiewe as die regte ding beskou word om ’n afgradering te keer. Dit is dus nie politieke steun nie, maar ekonomies van aard.
Agri SA moet as deel van die presidensiële taakspan oor landbou ook sy mening oor verskeie kwessies gee.
’n Gebrek aan vertroue tussen die landbousektor en die regering het in verskeie aanbiedings op die kongres ter sprake gekom. In ’n paneelbespreking oor die toekoms van grondhervorming het Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se landbou-ontwikkelingsbeleidskomitee, gesê die regering kraak boere voortdurend af en noem hulle diewe in die gronddebat.
Tog het Mike Mlengana, nuut aangestelde direkteur-generaal van landbou, applous van kongresgangers gekry oor sy onderneming om dienslewering aan boere te verbeter.
“In die departement het niemand ooit enige boer teruggebel nie. Ek wil met die boere praat, want as hulle bel, is dit weens nood en nie oor administrasie nie. Ek sal tyd maak vir afsprake met Agri SA.”
Hy sê amptenare in sy departement wil help, maar het nie die kennis nie of is in die verkeerde pos. So het ’n amptenaar hom nou die dag op sy plaas besoek en verwys na die pragtige Brahmaan, terwyl dit ’n Bonsmara was.
Hy maak nou seker die regte mens is in die regte pos. “Boere is onlosmaaklik deel van die toekoms van die land en daarom moet ons met mekaar praat om oplossings te vind.”

Tags: