Met grootvoëls lê die sukses in die fyn kyk

Deur Tisha Steyn 11 Desember
Die Burger Landbou
Jurie Klue van die Avondrus-boerdery is pas bekroon as Klein Karoo Internasionaal se top-volstruisboer vir 2015. Dit wil gedoen wees. Tisha Steyn het in Klaarstroom by hom gaan uitvind waarom hy so suksesvol is.
Klue het vanjaar erkenning gekry vir die beste slagprestasie vir meer as 1 000 voëls gelewer, vir die hoogste prestasie eerstegraad-velle van meer as 500 voëls gelewer, en die beste algehele prestasie in vleis, velle en vere vir meer as 500 voëls gelewer. “Ons boer nie om pryse te wen nie,” sê hy.
Die afgelope jaar is tussen 2 500 en 3 500 volstruise geslag, maar volgende jaar gaan dit waarskynlik meer wees. “Ons hanteer die hele volstruiswaardeketting van die broeivoëls, die broeiery, kuikens grootmaak tot op ses weke, jong voëls tot op 3½ maande en afronding daarna tot op slaggereed.”
Klue hanteer self die broeikamer, want hy beskou hierdie fase as die belangrikste deel van die hele ketting. “Ek haal die kuikens self uit die doppe en weet presies wat in die broeikas aangaan. Ons kuikens kom nie in aanraking met die dopstukkies in die broeikas nie, want hulle kry seer tussen die brokkies harde dop. Dit is klein dingetjies wat tel. Dit is die aandag aan detail wat uiteindelik die verskil maak tussen sukses en groter sukses.”
Die kuikens word op ses weke na die slaaphokke verskuif. “As dit reën of lyk na reën, jaag ons hulle in die slaaphokke in,” verduidelik hy. “Sodoende kan hulle niks verkeerds eet nie.”
Gradering: Klue het baie by sy oupa, pa en oom geleer, maar die kern van sy kundigheid oor die gradering van velle het hy by Bles Goussaard by KKI se leerlooiery geleer, sê hy. “Oom Bles het ons toegelaat om ’n jaar lank by te staan wanneer ons volstruise geslag word. Hy het vir ons gewys hoe die verskillende velle lyk wat beskadig is en ons het saam met hom interpreteer wat die oorsaak daarvan kan wees.”
Hy meen daar is ’n klomp oorsake van merke op die vel wat daartoe lei dat die vel ’n laer gradering kry. “’n Mens moet die hele tyd bedag wees daarop om die klein goedjies te voorkom wat die skade veroorsaak. Ek boer eintlik vir die vel omdat die vel in hierdie stadium die grootste waarde het.”
Sy belangrikste riglyne lê in die slagkaarte, wat ná elke slagting uitgereik word en belangrike inligting weergee oor volumes en standaard. “’n Mens moet die slagkaart die hele tyd evalueer om te kan sien waar jy wen en waar jy verloor. Jy kry baie meer geld vir premier- en eerstegraad-velle en vir karkasgewig van 45 kg eerder as 40 kg. Dit is moeiliker om vere se gradering te evalueer. Omdat ons volstruise in ’n voerkraal grootmaak, is die gehalte van ons vere nie so goed nie. Omdat voer duur is, konsentreer ons op velle wat ’n hoër inkomste genereer.” Voer word op die plaas geproduseer, maar gemeng volgens voedingsdeskundiges Camelus Voere se resep.
Oplossings: Die aandag aan die fynste besonderhede het voortgespruit uit ’n laagtepunt wat die boerdery tussen 2000 en 2004 beleef het. “Ons was besig om ons deure toe te maak en het na ’n oplossing gesoek. Die sleutel tot sukses was om meer aandag aan detail te gee, van die eiers in die broeikas tot slaggereed.”
Een van die geheime van suksesvolle vere- en leerproduksie is om die volstruise gereeld te “was”. Die voëls word elke maand van die ouderdom van drie maande tot slag gewas met ’n geregistreerde middel teen uitwendige parasiete soos myte en veerluise. Dit voorkom die gaatjies (pitting) in leer wat tot laer gradering lei. “Dit help nie jy begin eers met behandeling teen uitwendige parasiete nadat iemand anders die kuikens grootgemaak het nie. Sowat 80% van die skade kom voor tydens die eerste drie maande.”
Nog ’n faktor wat tot ’n lae gradering lei, is skaafmerke tydens vervoer na die abattoir. “Ek het ’n oplossing gevind teen skaafmerke en het die voorkoms daarvan verlede jaar van 30% tot 16% laat daal en tans is dit tussen 1% en 5%.
“Ek het honderde goed gedoen om my produkte te verbeter, en een het gewerk. Ek gaan nie al my geheime uitlap nie. ’n Mens kry ’n goeie prys met premiumvelle omdat dit skaars is.” Vir nou wil hy hierdie voordeel geniet, laat val hy met ’n glimlag.

Tags: