Omri van Zyl: “2016, Zuma en die (los)prys van pap”

Netwerk 24
Pres. Jacob Zuma se toespraak in Rustenburg het talle van ons landsburgers omgekrap. Jy vra jouself af of jy dalk in ’n parallelle heelal funksioneer wat duidelik nie strook met die hoofstroom-denkrigtings van ons leiers nie. Sonder om in ’n boksgeveg betrokke te raak oor wat reg en wat verkeerd is, gaan dit primêr vandag oor die fisieke en emosionele voortbestaan van ons land en sy mense.
Die droogste jaar in 30 jaar het nog nie die regering se staal getoets nie, en ek vrees sonder politieke wil en implementeringsvermoëns sit ons met baie meer moeilikheid as wat ons president vermoed. As ’n mens reflekteer op van die stellings wat gemaak is, is dit duidelik dat daar meer van ’n populistiese streep in is.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan en die 2030-visie stipuleer die bloudruk vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling. En die verwysing na ’n bekwame ontwikkelingstaat is akkuraat, maar die probleem, soos oor die afgelope 22 jaar, is die implementering van die beginsels. Die staat het doodeenvoudig nog nie homself bewys as ’n wêreldklasinstansie nie – die teendeel is eerder waar.
Die tema wat ná 22 jaar steeds die agenda domineer, is rassisme en ja – ons moet dit met wortel en tak uitroei deur volhoubare beleidsbesluite en beginsels wat weldeurdag geïmplementeer kan word. As Suid-Afrikaners moet ons almal verantwoordelikheid hiervoor aanvaar – en werk aan ’n meer inklusiewe Suid Afrika. Nie een van ons het ’n ander keuse nie. As jy nie die diversiteit van hierdie land wil omarm nie, is daar vir jou opsies in Kanada, Australië en Nieu-Seeland, om ’n paar te noem.
Die rassekaart bly die troefkaart teen minderhede wat steeds ekonomies die oorhand het. Die waarheid is dat minderhede ook Suid-Afrikaners is, wat belasting betaal, stem, lewens red en die ekonomie in Suider-Afrika laat klop. Dis tyd dat ons ophou om die massas teen die minderhede op te sweep om ons eie tekortkominge te verbloem. Hierin het Afrika ’n waardevolle les vir ons, en bykans alle Afrikalande suid van die Sahara kan getuig van dieselfde agteruitgang – die Engelse se “nothing succeeds like success!” bly van toepassing.
“Economic freedom must become a reality in our lifetime” is van groot belang. Die enigste manier hoe enige land in die wêreld die afgelope 100 jaar vryheid kon bereik, was nie deur van een groep te vat en dit vir ’n ander te gee nie, maar om die fundamentele aspekte van ’n gesonde ekonomie te bou. ’n Kennis-ekonomie,’n betroubare en vaardige staatsdiens, ontwikkeling, industrialisasie, innovasie, navorsing, maatskaplike sekuriteit, veiligheid.
Ekonomiese vryheid is direk eweredig aan die vrye mark, en die vermoë om daarin te woeker. Dis die doel van kapitalisme, en dis ook doodeenvoudig waarom Siriese en Noord-Afrikaanse vlugtelinge nie na Rusland, of Chad of Niger of selfs Egipte toe vlug nie, maar na Duitsland, Frankryk en Nederland. Dis waarom miljoene Zimbabwiërs na Suid-Afrika gekom het en nie na Malawi, Zambië of Mosambiek nie.
Die oomblik as die staat begin faal en die blaam op ander plekke gaan soek, is dit ’n gevaarlike oomblik. Dis wanneer selfbewustheid en introspeksie plek maar vir ego’s, radikalisering van mense en verdere verdeeldheid. Die stelling “vast tracks of land were stolen” is nie ’n stelling wat bydra tot ’n konstruktiewe gesprek oor grond nie. Dis doodeenvoudig verkeerd en die sameloop van ’n geskiedenis wat ons nie ongedaan kan maak nie maar waarop ons sal moet bou. Sonder om ’n oorverdedigende posisie in te neem en die regering op die feite te wys, is die realiteit dat die regering ná 22 jaar nie suksesvol was met grondhervorming of met landbou en enige verwante bedrywighede was nie.
Verder is dit so dat Suid-Afrika die enigste land in Afrika suid van die Sahara is wat voedselsekerheid het. En soos in Zimbabwe en talle ander Afrikalande is die “return of land must enable an increase in food productivity” nie net feitlik verkeerd nie, maar geskiedkundig herhaaldelik verkeerd bewys. Die realiteit is dat geen landbou-ekonomie kan groei sonder ’n baie sterk kommersiële sektor nie. Ons het die beste landbousektor in Afrika, by verre, en dit is iets wat ’n mens nooit vanselfsprekend aanvaar nie, want dit is oor honderde jare opgebou. Die rand verhandel vandag teen R16,88 teen die dollar; wat dink jy gaan die prys van pap wees as ons 6 miljoen ton mielies moet invoer? Wat gaan ons doen sonder ’n landbou-ekonomie, met voedselinflasie van 20% tot 30%?
Belange van plaaswerkers, soos die belange van produsente, moet altyd en in alle omstandighede beskerm word deur die reg en die grondwet. Sprake van ’n nasionale minimumloon maak ideologies sin, maar nie prakties nie. Boerdery is ’n besigheid en as die arbeid te duur raak sal daar deur meganisasie of afleggings plek gemaak word vir ander oplossings. Dit geld vir boere van alle rasse en kultuurgroepe.
Die realiteit is dat ons meeding met internasionale markte, met hoogs gesofistikeerde stelsels en baie goed opgeleide individue. Die groot wêreld daar buite gee nie regtig om wat fout was en is nie en hulle kry jou ook nie regtig jammer nie. Hulle belê in gehalte, voorspelbaarheid, veiligheid, en vaardigheid. Hoe gouer ons dit besef en ons strategie dienooreenkomstig rig, hoe beter. Ons moet alles in ons vermoë doen om seker te maak ons raak nie nog ’n Afrikaland sonder kos, werk of geleenthede nie.
As die aarde bewe is die lande met die beste fondamente die lande wat oorleef.
Landbou is en bly die slagaar van ’n land se ekonomie, en as dit seerkry, sal jou hart ophou klop.
• Omri van Zyl is die hoof van AgriSA.

Tags: