Ondanks reën bly gevolge van droogte nog lank

Netwerk24
Susan Cilliers 14 November 2016

Reën het die afgelope week oor groot dele van die noordelike provinsies uitgesak, maar die uitwerking van die droogte gaan nog minstens vyf jaar gevoel word, sê Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes.
“Boere kry goeie moed wanneer dit reën, maar baie reën oor ’n lang tydperk is nodig om die ondergrondse watertafel weer te lig, weivelde te herstel en damme en riviere beduidend te vul.”
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se jongste reënvalsyfers het daar van 1 tot 10 November minstens 25 mm oral in Gauteng geval, met swaar reën van tussen 200 mm en 500 mm plek-plek.
In die landbouproduserende Noordwes het reën hoofsaaklik in die sentraal-oostelike dele geval, waar tussen 25 mm en 100 mm gemeet is.
In groot dele van dié provinsie en Limpopo het dit egter glad nie gereën nie.
Reënval in Limpopo was grotendeels in die suidelike dele, waar tussen 25 mm en 100 mm op geïsoleerde plekke gemeet is.
Mpumalanga was gelukkiger. Die grootste deel van dié provinsie het tussen 50 mm en 100 mm reën gekry, en kol-kol selfs meer.
Du Toit van Agri Noordwes sê die uitwerking van die droogte gaan nog jare lank op veral ekonomiese gebied gevoel word.
“Van die boere moes tot 50% van hul veekuddes verminder. As ons nou normale reën kry, gaan dit omtrent vyf jaar duur voordat die produksievlakke weer terugkeer na die vlak van voor die droogte.
“Baie boere moes lenings aangaan wat hulle nou moet terugbetaal. Kontantvloei is min. Veral op die platteland raak die uitwerking van die droogte almal.”
Du Toit sê sommige boere begin nou al plant ná die reën, maar dit bly gewaagd omdat die watertafel so laag is weens die droogte.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens, die WNNR en die internasionale navorsingsinstituut vir klimaat en samelewing se gesamentlike voorspelling is dat Suid-Afrika se somerreënvalstreke ’n natter seisoen in die vroeg- en middelsomer kan verwag. Vloede word volgens die weerdiens se webwerf ook verwag weens hoër as normale reënval.
Wayne Venter, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê die reën in Gauteng sal in die dae wat kom waarskynlik nie so hewig soos die afgelope week wees nie, maar donderstorms kan steeds gepaard gaan met swaar neerslae en hael.
Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van waterwese, sê die jongste syfers oor damvlakke sal teen Dinsdag beskikbaar wees.
Weervoorspelling vir die res van die week:
Wayne Venter, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, se vooruitsigte vir die res van die week in die noordelike provinsies:
Gauteng: Dinsdag sal dit bewolk wees met laer temperature na die middel 20’s, maar daar is slegs ’n klein kans op reën. Die res van die week is daar ’n moontlikheid van buie en donderbuie elke dag. Van Donderdag af verbeter die kans op reën.
Noordwes: Hier is tot Donderdag ’n goeie kans op donderstorms laatmiddag, veral in die weste.
Limpopo: Dinsdag word donderstorms in die suidwestelike dele verwag, met ligte reën oor die laeveld en platorand. Geen reën die res van die week nie, maar teen Vrydag en die naweek word reën weer in die genoemde gebiede verwag.
Mpumalanga: Dinsdag word ligte reën langs die platorand verwag, met moontlike donderbuie teen die middag. Geen reën word vir die res van die week voorspel nie, maar nog reën sal waarskynlik van Donderdag af en oor die naweek in die genoemde dele val.

Tags: