Phosa: Regering én boere kan meer doen vir welsyn

Die Burger 11 Augustus 2017
Deur Suzaan Potgieter

Daar is baie ¬werkers wat van die landbousektor afhanklik is om ’n bestaan te maak, maar daar is soveel meer wat gedoen kan word om dié werkers se maatskaplike welsyn te verbeter.
Dít was die opinie van dr. Mathews Phosa, sakeman en voormalige tesourier van die ANC, op Agri Wes-Kaap se jaarlikse kongres by Rawsonville einde verlede maand.
Die kongres is by die Gou¬dini-spa gehou en Phosa was die hoofspreker.
Hy het na maatskaplike welsyn in Suid-Afrika se landbousektor verwys en opgemerk dat hoewel landbou ’n bydrae maak, daar nog baie is wat gedoen kan word.
“Die struktuur en aard van die landbousektor het in die afgelope drie dekades aansienlik verander. Hierdie veranderinge het nie net die produksie¬stelsel geraak wat boere in Suid-Afrika generasies lank beoefen het nie, maar ook ’n invloed op die maatskaplike -lewensomstandighede van landbouwerkers en hul families gehad.”
Volgens Phosa is daar baie gevalle waar die boer en werkers in vrede saamwerk. Reëls word dikwels uiteengesit ten opsigte van werkershuise, hul families en grondgebruik, en dit word deur al twee partye verstaan.
Wat is ’n boer se rol in ’n werker se welsyn?
Volgens Phosa is boere nie alleen verantwoordelik vir die maatskaplike welsyn van werkers nie omdat dit die regering se mandaat is. Die regering het ook die nodige hulpbronne en ondersteuning daarvoor.
Die maatskaplike toestande van landbouwerkers het dus nie veel oor die jare verbeter nie.
Mathews Phosa
Tog voel hy boere moet om twee redes ’n rol in die ver¬betering van werkers se sosio-ekonomiese omstandighede speel: “Eerstens, om suksesvol en kompeterend as ’n landbouprodusent in Suid-Afrika te bly, benodig jy ’n gesonde en produktiewe werksmag.
“Daar is tweedens ook baie wette deur die regering daargestel om die regte van plaaswerkers te beskerm en te bevorder, maar dit spreek nie die noodsaaklike maatskaplike status van die werkersgemeenskap aan nie.
“Die maatskaplike toestande van landbouwerkers het dus nie veel oor die jare verbeter nie.”
Phosa meen dit sal die regering baie lank neem om dieselfde of selfs voldoende vlakke van dienste aan landelike gebiede te verskaf, soos wat stedelike gebiede geniet.
“Ek dink nie dis slim vir kommersiële boere en hul ¬verteenwoordige organisasies om terug te sit en te sê dis alleenlik die regering se verantwoordelikheid om armoede te verminder en maatskaplike ontwikkeling onder plaaswerkers en in landelike gebiede te takel nie.”
Phosa se raad
Phosa het ’n paar strategieë op Agri Wes-Kaap se jaarkongres genoem wat boere kan oorweeg ten einde hul werkers se sosio-ekonomiese omstandighede te verbeter. Die strategieë is as volg:
• Kry ’n plaaslike verteenwoordiger om met die plaaslike regering in verbinding te tree om aan beleggings en instandhouding in landelike infrastruktuur – soos paaie, krag en watervoorsiening – voorkeur te gee.
• Bearbei die plaaslike regering om die voorsiening van basiese dienste – soos drinkwater, krag, sanitasie en vullisverwydering – na die plaasgemeenskappe uit te brei. Plaaseienaars betaal eiendomsbelasting aan die regering, maar nie hulle óf die werkers en hul gesinne wat op die grond woon, ontvang hierdie dienste nie.
• Ontwikkel ’n regsbindende ooreenkoms tussen plaaseienaars en -bewoners wat betref beroeps¬regte, verbeterings aan plaas¬behuising, reg van toegang tot dienste, asook besoek- en begrafnisregte en toegang tot hul eie grond vir die doeleindes van kossekerheid.
• Verseker dat werkers gereeld deur mobiele klinieke besoek word, inligting oor siektes soos tuberkulose en MIV/vigs ontvang en toegang tot nooddienste het.
• Sluit werkers as verteenwoordigers in by komitees oor plaaslike veiligheid. Misdaad is iets wat die hele plaasgemeenskap raak.
• Bearbei jou vir landelike behuising – op én van die plaas.
• Raak betrokke by opkomende plaasgroepe, veral die grond¬hervormingsprojekte, om jou landbouproduksie te bevorder.
• Moedig geleenthede aan vir volwasse onderrig en opleiding (Abet-programme), sowel as verdere onderrig en opleiding (VOO-kolleges) onder jou arbeidsmag.
• Stel jong mense in landelike gebiede aan moderne landboupraktyke bloot, en moedig hulle aan om die landbousektor as ’n loopbaan te betree.
• Nooi opkomende boere van die omgewing wat deel is van grondhervormingsprojekte om lede van Agri Wes-Kaap te word.

Tags: