Plett se eierboer is Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar!

‘n 36-jarige eierprodusent van Plettenbergbaai is die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar vir 2019.

Johan van der Schyff is op Woensdagaand 22 Mei tydens ‘n geselligheid in Durbanville as die wenner aangewys en sal later vanjaar om die titel van Agri SA Toyota SA Nasionale Jongboer van die Jaar meeding.

Johan boer al 18 jaar op die plaas JJ van der Schyff en Seuns met angoras, merinos, stoetvee en lamvoerkrale. Die grootste vertakking is egter die eierproduksie-eenheid wat sy pa in 2000 met 100 000 henne begin het toe Johan in matriek was. Hy het in 2001 by sy pa oorgeneem en die plaas se kapasiteit na 220 000 lê-henne uitgebrei. In 2006 het Johan die tweede plaas, wat ‘n duplikaat van die eerste een is, in Humansdorp met vier hokke gevestig. Vandag is daar 11 hokke met 250 000 lê-henne op dié plaas. In 2012 het hy ‘n eierverspreidingsdepot in Kraaifontein begin vanwaar 1 miljoen dosyn eiers per maand versprei word. Hy voer ook eiers na Angola en Namibië uit. Johan slag ook 1 500 lammers per maand uit die voerkrale wat hy in 2000 op Humansdorp begin het.

Volgens die beoordelaars het die besigheid onder Johan se beheer meer as verdriedubbel en het hy seker gemaak dat hulle die ekonomie van skaal-voordele kan benut. Die streng fokus op kwaliteit en diens aan sy kliënte het die beoordelaars ook beindruk.

Mnr Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die feit dat die vanjaar se ses deelnemers uitsonderlike presteerders in uiteenlopende bedryfsvertakkings is, dui op hoe sterk die jongboere in die Wes-Kaap se landbousektor staan. “Al ses deelnemers het gewys dat hulle geleenthede aangryp en dat hulle oor die intellektuele kapitaal beskik om suksesvolle boerdery-ondernemings te bestuur. Hulle is beslis een van die sektor se grootste bates en ware ambassadeurs vir die landbou,” sê mnr Strydom.

Johan sê sy prioriteit is nie om groter te boer nie, maar om slimmer en meer doeltreffend te boer. “Ek wil die plaas vestig as die voorkeur eierverskaffer in die Wes- en Oos-Kaap,” sê hy.

Agri Wes-Kaap wens Johan baie geluk met die groot eer om as Jongboer van die Jaar vir die Wes-Kaap aangewys te wees.

Die ander vyf deelnemers vanjaar was:

Stephan Basson, Malmesbury

Wessel van Dyk, Napier

Nicolaas Jonker, Bonnievale

Fourie Zulch, Ceres

Ian Cunningham, Elgin

 

Tags: