Rampfonds vir droogte kom

Netwerk 24 Philda Essop 18 Oktober 2016
So ons verwag dat die tesourie moontlik in die nuwe boekjaar dalk R500 miljoen in die fonds sal stort om boere te help wat weens die droogte nie kon produseer nie.
Kommersiële boere is hard geslaan deur die droogte en daarom wil die departement van landbou, bosbou en visserye ’n rampfonds vir droogtehulp stig, het Mike Mlengana, direkteur-generaal van landbou, in die parlement gesê.
“Ek probeer om ’n manier te vind vir samewerking tussen die nasionale tesourie, die Landbank en ander organisasies, onder meer landbou-organisasies, om te verseker dat ons ’n rampfonds op die been kan bring om die ramp te bestuur.”
Pravin Gordhan, minister van finansies, het die totstandkoming van die fonds aangemoedig, het Mlengana aan die parlement se portefeuljekomitee oor landbou, bosbou en visserye gesê.
“So ons verwag dat die tesourie moontlik in die nuwe boekjaar dalk R500 miljoen in die fonds sal stort om boere te help wat weens die droogte nie kon produseer nie.
“Dit sal spesifieke kriteria hê oor hoe toegang tot die fonds verkry kan word, maar dit sal die droogte in sy geheel pak, ongeag of jy wit of swart is.”
’n Komitee word volgens Mlengana tans gevorm onder leiding van Agri SA. Die Landbank het vroeër vanjaar R400 miljoen vir lenings aan kommersiële boere beskikbaar gestel.

Tags: