Reën keer glo ramphulp aan boere

Deur Anlerie De Wet 08 Februarie 2016 Netwerk 24

Die Suid-Afrikaanse landboubedryf is gister onkant betrap deur die onverwagse aankondiging dat die regering nie ’n nasionale droogteramp gaan verklaar nie.
Bheki Cele, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, het gister by ’n konferensie in Dubai aan die nuusagentskap Reuters gesê “God het die laat reën laat val en ons dink die 6 miljoen ton (mielies) wat ons sou invoer, sal nou tot 4 ton afneem. Die enigste hoop is dat dit sal aanhou reën.”
Volgens hom is sewe van die land se nege provinsies reeds tot rampgebiede verklaar, maar regverdig die situasie dit tans nie dat ’n nasionale droogteramp verklaar word nie.
Thabi Nkosi, ’n ekonoom van Agri SA sê by navraag die hele land moet rampgebiedstatus kry voordat die nasionale tesourie geld aan sukkelende boere sal gee.
Maar Cele sê daar is reeds aan verskeie boere hulp verleen en meer boere sal binnekort gehelp word.
Oor klagtes van kommersiële boere dat kleiner boere die meeste van die hulp gekry het, sê Cele daar is ’n verskil tussen as jy 36 beeste verloor en dan niks meer oor het nie en as ’n mens 4 000 beeste het en jy verloor 36. Daarom moet daar eers begin word om die kleinboere te help.
Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê die laat reën sal nie verseker dat plase herstel nie.
“Ons het pas navorsing voltooi wat bewys dat die droogte ’n nasionale ramp is,” sê hy.
Agri SA, Graan SA en ander instellings gaan môre ’n droogteherstelplan met ’n begroting finaliseer wat hulle binnekort aan die regering gaan oorhandig. Graan SA het verlede week ’n beroep op die regering gedoen om die droogte tot ramp te verklaar.
Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê ingevolge wet moet die minister van landbou die rampstatus van die land aanpas as twee of meer provinsies tot rampgebiede verklaar is.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê in sy reaksie “die ANC kan ons nie meer verras nie. Ons weet hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Volgens hom is dit as gevolg van dié denkwyse dat geld uit die land stroom en nie gebruik word om die landbousektor te stabiliseer nie.
Volgens Cele oorweeg die regering die invoer van wit mielies uit Mexico om aan die plaaslike voedselaanvraag te voldoen.
• Die departementele woordvoerder was nie beskikbaar vir kommentaar nie

Tags: