SA-landbou bied sleutel vir Afrika

Netwerk 24
Deur Omri van Zyl
12 Desember 2016
In ’n onlangse aanbieding op die African Investment Indaba in Kaapstad het Omri van Zyl, AgriSA se uitvoerende direkteur, dié sake-perspektief vir kommersiële boerdery in Afrika voorgehou.

Die gehalte van primêre inligting bepaal die gehalte van sekondêre strategiese ontwikkeling. Dit geld ook landboustrategieë in Afrika. Ek grond my stelling op die volgende argumente.

1. Suid-Afrikaanse kommersiële landbou groei vinnig.
Dis besig om tot die mees gevestigde en winsgewendste sektor op die vasteland te ontwikkel.
Suid-Afrika is tans die Afrikaland met die grootste voedselsekerheid en daarbenewens die enigste netto uitvoerder van produkte op die vasteland. Die netto verdienste van die Suid-Afrikaanse landboubedryf bedra jaarliks sowat R80 miljard en sorg terselfdertyd vir sowat 8% van die land se formele werkgeleenthede.

2. Suid-Afrikaanse boere is tegnologies bedrewe.
Volgens droogheidsindekse is ’n skrale 13,5% van Suid-Afrika se grond geskik vir doeltreffende landboubedrywighede, soos gewasverbouing – slegs 3% is hoëpotensiaalgrond. Dit beteken dat Suid-Afrikaanse boere nie veel het om mee te werk wat potensiaal betref nie.
Die grootste beperking is die tekort aan beskikbare water as gevolg van ongereelde of onbetroubare reënval. Sowat 60% van Suid-Afrika se waterbronne word vir landboudoeleindes aangewend, wat besproeiingswater aan 1,3 miljoen ha se gewasse verskaf.
Ondanks klimaatuitdagings span Suid-Afrikaanse boere wêreldklas-infrastruktuur in deur toegepaste tegnologie en presisieboerdery om nie net in die plaaslike vraag nie maar ook internasionaal te voorsien.
Produktiwiteit op verminderde aantal hektare word in die grafika oor mielies uiteengesit.

3. Suid-Afrika is verreweg die aantreklikste investeringsmark in Afrika.
Dit is sowel in terme van gevestigheid van ons primêre produksie as sekondêre verwerkingsektore. Ons finansiële stelsels is van die beste ter wêreld, ons besit ons plase en ons skop stof in ons bure se oë wat alle aspekte van sektorgroei en winsgewendheid betref.

4. Doeltreffende kommersiële finansiering bestaan in Suid-Afrika.
Die grafiek dui daarop dat sekuriteit die enigste manier is om landbou in Afrika te finansier. Die gaping tussen Suid-Afrika en ander lande word in die grafiek getoon. Grondeienaarskap is ’n baie beter manier om finansiering vir produksie en landbou-ontwikkeling te beding.

’n Eenvoudige verduideliking is dat die landbousektor se insetkoste sowat R130 miljard teenoor ’n nasionale boekwaarde van sowat R220 miljard is. Die grondwaarde maak dié leningsomvang moontlik.

Gevolgtrekkings
Na aanleiding van besoeke aan en betrokkenheid by landboukommersiële en -ontwikkelingsprojekte op die vasteland, is my gevolgtrekkings eenvoudig.
As ons veronderstel dat ons almal ekonomiese groei nastreef, werkgeleenthede wil skep en voorspoed en voedselsekerheid wil verseker, moet die volgende gedoen word:
• Skep ’n bevorderlike beleidsomgewing waar grondeienaarskap van primêre belang is. Ons kan nie die Groen Revolusie in Afrika op enige ander wyse finansier nie. Baie Afrikalande probeer reeds dekades lank om kleinboere op te hef, skenkers het miljarde dollars in Afrika gepomp en tog bly dié vasteland steeds in armoede vasgevang. Kom ons wees slim: Grondbesit beteken nie veel sonder finansiering nie.
• Gebruik Suid-Afrikaanse landbou as die spil vir groei in Afrika. Ons het die kommersiële boere, ons het die tegnologie, ons het die finansiële stelsels, ons het die investeerders en die tersiêre vermoëns.
• Aanpassing by klimaatverandering is uiters belangrik vir toekomstige landboupraktyke. Weer eens, benut die Suid-Afrikaanse landbouspil om nuwe variëteite te ontwikkel, nuwe boerderypraktyke in te span, slim oplossings vir water te bedink, en om groot tegnologietreë te gee.
• Ontwikkel plaaslike, Afrika- en internasionale markstrukture om die markvraag na ons landbouprodukte te vergroot.
• Ontwikkelingsfinansiering vir nuwe boere moet opnuut onder die vergrootglas geplaas word. Dit is nie moontlik om nuwe kommersiële boerdery-ondernemings te vestig met tradisionele finansierings- en bankmodelle nie. Nuwe bevorderlike modelle moet so gou as moontlik ontwikkel en geïmplementeer word

Tags: