Skade aan kanaal ‘is ’n krisis’

Deur Malani Venter Donderdag 08 Januarie 2015 04:00

News08Water stroom uit die gebreekte kanaal naby Klawer en honderde boere in die streek moet met min of geen water klaarkom. Sowat 180 m se grond is hier weggespoel. Foto: facebook
’n Gebreekte waterkanaal in die Weskus laat honderde boere met minder of geen water nie en beloop reeds miljoene rande se skade.
Ongeveer 300 boere in die streek wat van Klawer tot Ebenhaeser strek, moet sedert Maandag met min of geen water klaarkom. Dit kan tot ’n maand neem voor die kanaal ten volle herbou is.
“Hierdie is ’n krisis. In temperature van 35 °C en hoër moet die wingerde en ander kontantgewasse natgemaak word,” het Johan Matthee, uitvoerende hoof van die Laer Olifantsrivier watergebruikersvereniging, Woensdag gesê.
’n Deel van die kanaal op die plaas Pomptuin buite Klawer het Maandag omstreeks 19:00 gebreek.
Dit lê binne sandduine en sowat 180 m se grond het weggespoel, het Matthee bygevoeg.
Altesaam 13 pompe met trekkers sal in die volgende paar dae opgestel word om sowat 50% van die water om die breuk stroomaf in die kanaal in te pomp.
Matthee het vervolg: “Die totale herstelproses van die kanaal sal ongeveer ’n maand neem. Vir die volgende paar weke sal ongeveer 300 boere in die streek slegs 50% water kan ontvang. Ons beplan om teen eerskomende Maandag water te begin uitdeel.”

http://www.netwerk24.com/nuus/2015-01-08-skade-aan-kanaal-is-n-krisis

Tags: