Só lyk huidige Wes-Kaap landboutoestande

7 Junie 2016
Agri Wes-Kaap

Daar is tekens dat die El Niño-weerverskynsel begin verswak, maar ons sien steeds die gevolge van laat reën en warm temperature in die huidige primêre produksietydperk van ons wintergraan- en weidingsgewasse. Mnr Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê dit bring sekere uitdagings mee wat bestuur moet word:
• Genoeg water vir mens en dier vir die huidige en die volgende seisoen;
• Genoeg veevoer om sowel klein- as kommersiële veeprodusente aan die gang te hou;
• Potensiële oesverliese en die verlies aan roumateriaal om die waardeketting aan die gang te hou om voedsel vir die verbruiker te produseer;
• Primêre produsente, sowel as ondernemings wat van primêre produsente afhanklik is, te midde van ekonomies druk aan die gang te hou;
• Skuld wat vir die nuwe seisoen aangegaan is terwyl daar nog oorlaatskuld van 2015 is.
Hy sê die droogte is besig om ‘n rimpeluitwerking deur die totale ekonomie te hê met voedselpryse wat styg, voedselinflasie wat toeneem en die landbou se skuld vs batestruktuur wat besig is om negatief te raak.
Die uitwerking hiervan is enorm, veral ten opsigte van werkskepping, werkinstandhouding en om die moraal van produsente, plaaswerkers en landelike bewoners te bestuur. Daar moet ook daadwerklik gekyk word na langtermynoplossings binne landbou se eie geledere, sê hy.
Agri Wes-Kaap en AFASA is in gereelde gesprek met die Departement van Landbou Wes-Kaap en die Ministerie en is deel van ‘n taakspan om die huidige situasie te bestuur.

• Wintergraanprodusente in die Weskusdistrik wat reeds tot droogterampgebied verklaar is, is bekommerd na die gebied in Meimaand min tot geen reën gehad het. Die klein persentasie Kanola en koring wat opgekom het, het doodgebrand terwyl die meeste koring nog glad nie ontkiem het nie. Lupiene, hawer en korog wat in Mei aangeplant is en plek-plek begin opkom het, is besig om dood te brand, wat veeprodusente wat reeds onder die droogte gebuk gaan, onder druk hou. Heelwat bees- en skaapprodusente in hierdie gebied het hul kuddes al totaal uitverkoop.
• In die Swartland is wintergraanprodusente bekommerd oor die reën wat wegbly. Kanola wat reeds opgekom het, verlep terwyl koring wat reeds opgekom het, water krities nodig het om te oorleef. Veeprodusente kry steeds swaar en weiding wat gesaai is, sukkel vanweë ‘n tekort aan vog.
• In die Suid-Kaap het die reën ook begin wegbly nadat graanprodusente in April met aanplantings begin het. Die streek het in Meimaand geen noemenswaardige reënval gehad nie en reën is krities nodig vir die graan wat begin opkom. Voerskenkings uit die gebied het begin opdroog omdat produsente uit vrees vir ‘n tekort aan weiding beskikbare voer vir eie gebruik begin terughou.
• In die Sentraal-Karoo, wat ook as ‘n droogterampgebied verklaar is, is produsente in dieselfde benarde posisie en moet hulle vee gevoer word. Reën is krities nodig om deur die winter te kom.
Mnr Cornie Swart, President van Agri Wes-Kaap, sê saaiboere het groot uitgawes aangegaan om gewasse in die grond te kry. “Ons gesaaides kry swaar. Produsente wat nog nie geplant het nie, het bloot nie vanjaar genoeg kapitaal nie. Verlede jaar se slegte oes het ons kapitaal uitgeput,” sê hy.
Hy sê die lae reënval tot dusver is tragies en dat die potensiaal van beskikbare weiding elke dag swakker word en voer amper onbekostigbaar geword het.

“Oor twee weke is ons reeds in die middel van die winter. Die huidige warm toestande veroorsaak dat vrugtebome blom voordat hulle behoorlik in ‘n rustydperk kon ingaan. As ons nou ryp kry en die blomme afval, vorm nuwe, tweedegraadse blomme wat swakker kwaliteit vrugte tot gevolg kan hê. In die Weskus-distrik waar temperature steeds hoog is, het wingerde ook al begin bot,” sê hy.

Tags: