Tafeldruiweprodusent is Wes-Kaap se nuwe Jongboer van die Jaar!

Jacques Beukes (35), ʼn tafeldruiwe-produsent van De Doorns in die Hexriviervallei is Woensdagaand (25 Mei) aangewys as Agri Wes-Kaap en Santam Landbou se Jongboer vir 2016. Jacques dring nou deur na die nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie wat in Oktober deur Agri SA en Toyota SA aangebied word.

Kosie Loubser, voorsitter van Agri Wes-Kaap se jongboerkomitee, sê die kompetisie was vanjaar taaier as ooit. “Ons moes ʼn wenner uit ses briljante jongboere aanwys. Dít wat hulle het om te bied is ongelooflik,” het hy gesê.

Jacques boer al 10 jaar op die plaas Modderdrift. Hy is Agri Wes-Kaap se streekverteenwoordiger, ʼn direkteur van die Hexvallei Tafeldruiwe Assosiasie en die voorsitter van die Breedevallei Munisipaliteit se produsenteforum.

Jacques, wat ʼn B.Com-graad in Logistiek aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, sê jongboere is die land se toekoms. “Jongboere bring baie nuwe idees en energie na die ekonomie. Hulle hou van nuwe ontwikkelings en uitdagings,” sê hy.

Hy glo net aan die hoogste voedselstandaarde. “Daarom is dit belangrik om jouself só te posisioneer dat jy aanloklik vir al die supermarkte daar buite is,” sê hy.

Volgens Jacques is hy baie lief vir die tafeldruifbedryf. “Ek gaan aanhou belê in hierdie wonderlike bedryf. Daar is elke dag baie uitdagings, maar jy moet dit in geleenthede omskep. Deur hoër standaarde na te streef, plaas jy druk op jou mede-produsente om hulle standaarde ook te lig. Só dra jy by tot ʼn beter Suid-Afrikaanse landboubedryf,” sê hy.

Tags: