Water dalk die nuwe Eskom

Landbouweekblad
Deur Joylene van Wyk
17 Desember 2015
Hoewel die waterkrisis in die land meer kompleks is as die Eskom-situasie, is daar tog duidelike ooreenkomste, sê mnr. Peter Montalto.
Strukturele swakhede rakende waterverskaffing wat gedurende die huidige El Niño uitgelig word, is nes soos ervaar is met Eskom, ’n krisis wat reeds lank wag om te gebeur, meen mnr. Peter Montalto, ekonoom van die Nomura-groep.
In verskeie gebiede in die land is waterbeperkinge ingestel en in sommige is ’n toename in wateronderbrekings gesien. Nes soos in die geval van Eskom, bestee die land groot bedrae op die opgradering van infrastruktuur. Die probleem is egter dat die opgraderings ietwat te laat begin word en koste-oorskryding beïnvloed die lewering van die hulpbron.
Die Departement van Water en Sanitasie het bereken dat die land in die volgende 10 jaar sowat 20% meer water sal benodig. Die groter vraag is vanweë ’n groeiende bevolking en is besig om op te vang met die ontwikkelingsvereistes om kraanwater aan swart en landelike gebiede te voorsien.
Sowat R2,7 triljoen word oor 20 jaar benodig om meer water te voorsien, terwyl verwag word dat openbare besteding op infrastruktuur rondom R117 miljard oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (drie jaar) sal wees. Dit beteken dat daar in nominale terme sowat R1,4 triljoen teen 2035 sal wees, wat op ’n tekort van sowat die helfte van die R2,7 triljoen dui.
Strukturele gebreke kort aandag
Montalto sê daar is ’n ernstige tekort aan tegniese vermoëns in veral ingenieurswese, asook binne die bestuur van waterrade en die verskeie regeringsdepartemente wat met water belas is. Anders as Eskom, gaan die waterkrisis nie soseer oor ’n stelsel wat enige oomblik in krisis gedompel kan word nie, maar oor ’n stelsel wat strukturele gebreke het wat blootgestel is aan die weer en tegniese probleme.
Tans beteken dit ’n tekort aan reënval, lae damvlakke en gepaardgaande hoë temperature in sommige gebiede. Hy sê met die plaaslike graanvoorraad wat rekordlaagtes bereik het met 48 dae se voorraad van mielies teenoor 76 dae verlede jaar en 67 dae se voorraad vir koring teenoor 70 dae verlede jaar, sal die impak op verbruikersprysinflasie nog gesien word.
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het onlangs sy kommer aangedui oor versnelde voedselprysstygings in die komende maande weens die droogte.

Tags: