WATERPOSISIE RAAK KRISIS VIR LANDBOUSTREEK

Agri Wes-Kaap

17 Maart 2017

“‘n Eens veilige waterposisie is besig om in ‘n krisis te ontaard met langtermyngevolge vir landbou in die streek.”

Só sê mnr Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, oor produsente in die Theewaterskloofdam se bedieningsgebied wat bekommerd is dat tot soveel as ‘n derde van die oesvolumes, veral die later vrugvariëteite, skade kan ly as dit nie teen die einde van die maand in die opvangsgebied reën nie. Slegs sowat die helfte van die oes is afgehandel en volgende jaar se oes is ook op risiko omdat min, indien enige na-oes water, beskikbaar is.

Produsente wat water uit die Theewaterskloofdam mag onttrek is met 30% van hul watergebruik ingekort. Die huidige damvlakke is tans laer as 25% en kan binnekort nie meer deur die tonnelstelsel water aan die groter waternetwerk van die Skiereiland voorsien nie. Indien reënval die komende winter wéér ondergemiddeld is, kan dit rampspoedige gevolge vir die landbousektor in die gebied inhou.

Produsente sê die regering gaan in die lig van die huidige waterkrisis dringend fondse beskikbaar moet maak en strategieë in plek moet sit om bykomende water na die opvangsgebied te kanaliseer omdat soveel water uit die opvangsgebied na die Skiereiland en metropool versprei word. Dit kan gedoen word sonder om die dam fisies te vergroot. Produsente moet ook toegelaat word om stoorkapasiteit te skep as buffer in krisistye. Streng regulasies met betrekking tot die vergroting van damkapasiteit op plase is teenproduktief omdat burokratiese prosesse jare vat en omgewingsimpakstudies duur en tydrowend is.

Die afgelope droër maande kon ideaal benut word om bo-lope, waterkanale en oewers in die streek vir doeltreffende waterbestuur en beter waterkwaliteit van indringerplante te suiwer, maar dit is nie deur die regering aangepak nie. Produsente het intussen begin om noodgedwonge duisende rande uit hul eie sak te spandeer om self van indringerplante ontslae te raak. Grond wat aan nasionale staatsdepartemente behoort is tans die grootse brandrisiko en word nie onderhou nie.

Produsente in die gebied is ook bekommerd oor wat die regering se prioriteit in terme van landbou teenoor publieke belang gaan wees as watervlakke nie die teiken van 85% behaal nie. Hulle sê die streek is uitgelewer aan ‘n regering vir wie dit nie ‘n prioriteit is om die landbousektor te beskerm nie en dat dit die risiko is wat produsente met ‘n Staatswaterskema loop. Die regering moet besin tot op watter punt stedelike groei swaarder weeg as die ekonomiese volhoubaarheid van kritiese landboustreke in die toekoms.

Tags: