Wes-Kaapse Jongboer is boer uit een stuk

Landbou Burger
Deur Samantha van den Berg en Edrea Cloete
16 Junie 2017

As ’n klein seuntjie het hy met trekkers gespeel en gedroom van ’n loopbaan in die landbou. Vandag staan Johann Nel, van die plaas Hoëkraal Landgoed buite Suurbraak, aan die hoof van ’n suksesvolle melk-, skaap-, graan- en bokboerdery in die Overberg. Samantha van den Berg het by Agri Wes-Kaap en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar-wenner gaan kuier.

Douvoordag, terwyl baie van ons nog slaap (of dalk net-net eers ontwaak), is Johann Nel (30) en sy span op die plaas Hoëkraal Landgoed buite Suurbraak in die Overberge reeds in die melkstal aan die werk.

Maar daar is vir hom níks lekkerder nie, sê die 2017-wenner van die Agri Wes-Kaap en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar-kompetisie met ’n breë glimlag.

Benewens die melkery wat die hoofvertakking op die plaas is, boer Johann ook met dohnemerinoskape, graan en boerbokke.

Dit is ’n reënerige oggend en ons gesels om ’n tafel in sy kantoor, met vuurwarm koffie en die heerlikste croissants en konfyt – danksy Madelé, sy vrou. Die hoogliggende bergpieke skuins agter die melkstal is met sneeu bedek.
“Dit is vir my lekker om soggens hier te staan en te sien hoe vol die koeie se uiers is én dat die melk loop; dat my diere kos kry en álles verloop soos dit moet. Dit is dan nie regtig so moeilik om soggens vroeg op te staan nie. As jy ’n liefde en passie het vir wat jy doen, doen ’n ou dit met gemak – selfs met plesier!” sê hy.
Johann het vanjaar vier ander jong boere in die provinsie om die titel as die Wes-Kaap se top-jongboer uitgestof. Hy sal die Wes-Kaap later vanjaar in die nasionale ronde van die kompetisie verteenwoordig.

Johann skerts oor al die media-aandag wat hy sedert die toekenningsaand ontvang, en sê die grootste deel van sy dag word deesdae aan joernaliste gewy, en nie meer aan sy boerderybedrywighede nie.
Dit is iets wat buite sy gemaksone val. Hy is ook nie mal daaroor om heeltyd oor homself te praat nie, erken hy.
Maar om vanjaar deel van die jongboer-kompetisie te kon wees, is vir hom ’n groot voorreg. “Om in aanmerking vir die kompetisie te kom moet jy ’n leier in jou veld wees en presteer. Ek dink dit is ’n groot prestasie net om ’n finalis te wees. Ek het trouens glad nie verwag om te wen nie. Ek was baie geskok toe my naam aangekondig word.”
Middelburg tot melkboer

Johann is oorspronklik van Mpumalanga – mielie- en sojaboonwêreld – en het in Middelburg grootgeword en skoolgegaan.

Hy het in 2008 na die Wes-Kaap getrek toe sy pa, wyle Christoff Nel, wat jare lank in die mynbedryf was, Hoëkraal Landgoed gekoop het.

Johann sê sy oupa en ander familie het almal geboer, en dit was nog altyd sy gesin se droom om by landbou betrokke te raak en Wes-Kaap toe te trek.

Hy het vroeër drome gehad om ’n dokter of ingenieur te word, maar dit is landbou wat altyd die hardste geroep het.
“Toe ek in 2008 plaas toe kom, het ek onder begin werk. Ek het eers die verse en kalwers grootgemaak en só deur al die stelsels gegaan om al die vertakkings op die plaas te leer ken.

“My pa is in Maart 2009 oorlede, waarna ’n bestuurder vir ’n ruk oorgeneem het. Ek het die bestuur van die plaas twee jaar later, in Desember 2011, voltyds oorgeneem,” sê Johann.

Gediversifiseerde boerdery
Vinnige feite oor die plaas
• Soort boerdery: melk, graan, skape en boerbokke.
• Melkery: Dit is die hoofvertakking. Altesaam 1 100 jerseykoeie word twee keer per dag gemelk. Tans lewer die koeie 17 000 liter melk per dag.
• Graanproduksie: Net so ’n bietjie meer as 1 200 ha is onder graangewasse. Kontantgewasse soos hawer, saadkoring en gars word op 800 ha geplant. Die res word vir kuilvoer gebruik.
• Skape: Daar is net ’n bietjie meer as 2 000 dohnemerino-ooie op Hoëkraal. Die skaapkudde is in ’n eerste en tweede kudde opgedeel en hulle lam twee keer per jaar. Die dohnemerino’s word vir vleis- en wolproduksie aangewend.
• Boerbokke: Die bokkudde is van 30 tot 450 diere uitgebrei. Die bokke is hoofsaaklik ingebring om die onbenutte weiding in die klowe doeltreffend te gebruik.

Die melkery op Hoëkraal is die hoofvertakking in Johann se boerdery. Daar word tans sowat 1 100 jerseykoeie twee keer per dag en hoofsaaklik van weiding af op die plaas gemelk. Die koeie lewer sowat 17 000 liter melk per dag.
“Weens die droogte in die provinsie is die melkproduksie ’n bietjie laer as verlede jaar. Dit is egter nou besig om te verbeter.”

Johann bestuur verskillende weidingstelsels op die plaas. Die swakker, klipperige grond kry ’n basis van kikoejoegras, waarna eenjarige raaigrasse geplant word. En op die grond met ’n hoër potensiaal word ’n gras-en-klawermengsel gevestig.

“Ons weidings word redelik noukeurig bestuur. Ek glo enigiets wat jy goed wil bestuur, moet jy meet. Ons gebruik spe¬siale programme om ons weidings te meet. Ons koeie word ook individueel gemeet. As jy nie meet nie, kan jy nie jou plaas goed bestuur nie. Jy moet iets hê waarteen jy jouself en jou praktyke kan meet. Jy moet wéét of jy beter of swakker vaar.”

Benewens die melkboerdery, het Johann ook ’n skaapkudde van meer as 2 000 dohnemerino-ooie en ’n kudde boerbokke met 450 diere op Hoëkraal.

Die graankomponent van die boerdery beslaan 1 200 ha.
Volgens Johann word kontantgewasse soos hawer, saadkoring en gars op 800 ha van die grond geplant. Die res word vir kuilvoer gebruik.

Bok, bok staan styf!

Volgens Johann was die skaapkudde op die plaas aanvanklik ’n kruiskudde met 627 ooie. Hy het dit intussen taamlik uitgebrei en na die dohnemerinoras oorgeslaan – hoofsaaklik omdat dit ’n dubbeldoelskaap is wat vleis én wol verskaf.
Die skaapkudde is in ’n eerste en tweede kudde opgedeel en hulle lam twee keer per jaar.
“Elke plaas is uniek. Ons het water en kan taamlik besproei. Ons het ook ’n lekker klomp droëland op die plaas wat ons kan benut, maar nie alles werk goed vir graanproduksie nie. Daar is van die lande wat redelik skuins is. Nou gebruik ons dit vir skape. ’n Graan- en skaapvertakking gaan eintlik hand aan hand – dit komplementeer mekaar.”
Johann en sy bestuurspan se vernuftige planne vir die weiding in die talle onbenutte klowe op Hoëkraal het weer tot die gevestigde boerbokkudde gelei.

Van groentjie tot wenboer
Johann erken aan die begin toe hy op Hoëkraal aangekom het, was dit nie altyd maklik nie. Die boerderypraktyke in Mpumalanga, waar sojabone en mielies geplant word, verskil en is nie dinge wat hier toegepas kan word nie.
“Alles wat ons hier doen, is taamlik trial and error. Én ons het al foute begaan. En elke fout kos jou geld. Maar jy moet dit darem só bestuur dat jou foute jou nie baie geld kos nie. Maar ja, ons het al ons skoolgeld betaal.”
Wenke aan ander boere:
Johann Nel, die Wes-Kaap se Jongboer-wenner vir 2017, gee die volgende wenke aan ander jong boere:
• Elke plaas is uniek. Bepaal dus eers wat die plaas se drakrag is – of dit nou vee of wingerd is.
• Maak seker dat jy goeie boerdery- en bestuurspraktyke aan die dag lê, want dit is hoe jy jou plaas se opbrengs gaan verhoog.
• Daar is soveel kundiges in die landboubedryf – omring jou met hulle en gebruik hul kennis om jou boerdery suksesvol te maak.

Hy glo dat kundige bystand uiters noodsaaklik is om suksesvol te boer. Boere moet goeie verhoudinge met spesialiste en kundiges opbou en mense kry saam met wie hulle ’n lang pad kan stap.

“As ’n boer sal jy nooit daarin slaag om alles self te doen nie. Hoe spesialiseer jy in al daardie onderskeie velde? Van daardie kenners het doktorsgrade. Leer hierdie spesialiste ken en soek mense saam met wie jy ’n pad kan stap.”
Johann beskryf homself as perfeksionisties – wel net in ’n mate. Hy meen almal is maar ’n bietjie perfeksionisties oor wat hulle doen. “Ek verpes dit as daar ’n tou of papier op die werf rondlê. Alles moet netjies wees en ons gereedskap moet mooi opgehang word – selfs in die werkswinkel.

“Elke Vrydag hardloop die manne maar hier rond op die werf, want dit is wanneer ons die implemente was. Dit is maar die roetine wat ons volg.”

Hy glo dat as jy jouself in die landboubedryf bevind, is jy reeds iemand wat hardwerkend is.
Dit is amper tweede natuur, sê hy.

“Ons het nie inval- en uitvaltye nie. Die melkery begin soggens om 04:30. Kort daarna vergader die plaasbestuurders oor die dag se take. Saans teen 19:00 staan ons nog hier en praat oor ’n paar dinge wat moet gebeur.”

“Ek glo dat jy jou vrou reg moet kies. Om ’n boer se vrou te wees is nie maklik nie,” voeg Johann by.
Hy en Madelé is in 2012 getroud en het twee kinders, Christoff en Cara.

Dáárom is dit lekker
Johann sê om elke dag in ’n kantoor in ’n betongebou te gaan werk, is glad nie iets wat hy sal kan doen nie. Dit is net nie in sy geaardheid nie.

Volgens hom is dit een van die wonderlikste dinge in die ¬lewe om elke dag so in die natuur te kan werk.
Hy is ook gaande daaroor om te sien hoe die boerderyproses en die besluite wat hy saam met sy bestuurspan neem, in werking gestel word.

“My gunstelingtyd op die plaas is hier net voor skemer. Almal is dan reeds weg en dit is stil en rustig.
“Dan kan jy mooi na alles kyk. Dít maak die dag se werk alles die moeite werd.

“Só ook om dit met my ¬geliefdes te deel. Madelé en die kinders geniet nogal die plaaslewe. Hulle hou daarvan om saam met my op die plaas rond te ry.”

Jong boer, wat dra jy by?
Johann glo ’n boer moet innoverend wees, anders gaan jy net swaarkry.

“Die jonger generasie gebruik tegnologie vinniger en makliker as die ouer geslag omdat ons daarmee grootgeword het. Ek glo egter dat jy nie gevestigde boerderypraktyke net by die venster kan uitgooi vir tegnologie nie. Jy moet dit saam aanwend.”

Hy meen boere kan tegnologie gebruik om hul boerderypraktyke so uit te brei en te verbeter dat hulle doeltreffender en suksesvoller boer.

Dit is veral van toepassing op die groot uitdaging wat die bedryf in die gesig staar: Meer voedsel sal in die toekoms op minder grond geproduseer moet word.

“Al hoe ons dit kan doen, is om ons produksie te verhoog. En daarvoor het ons weer tegnologie en innovering nodig.”

Carl Opperman: ‘Ons harte bars van trots’
Elke jaar wanneer die paneel beoordelaars vir die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie die deelnemers op hul plase besoek, is die reaksie dieselfde: wat ’n voorreg om hierdie jong produsente te ontmoet!
Ons kom elke keer opnuut onder die indruk van ons jong boere se sterk waardestelsels, kundigheid, geesdrif, toekomsvisie en geloof.

Elke jaar wys die kompetisie ons dat die jong boere met nuwe vernuf en ywer plaas toe kom; hulle gryp tegnologie aan en boer slim; hulle maak ’n verskil én maak ’n geleentheid van elke uitdaging en struikelblok, want hulle is uitmuntende entrepreneurs met fokus en dryfkrag.

Dit is inspirerend om te sien hoe positief en vol planne die Wes-Kaap se jong landbouers is – ten spyte daarvan dat hulle ’n beroep gekies het waarin hulle elke dag aan soveel faktore buite hul beheer uitgelewer is.
Ons 2017-wenner, Johann Nel, se gevoel som dit ten beste op: “Boerdery is vir my die mees gesonde, dienende en nederige werk om te verrig.”

Jong boere laat ons land se toekoms groei. Hulle verdien blootstelling vir die ekonomiese lewensruimte wat hulle daagliks onder moeilike omstandighede vir ál die rolspelers in die primêre landbou help skep.
Hulle verdien ook erkenning dat hulle hul tyd en kundigheid eerder in landbou as in enige ander sektor belê.
Die Jongboer van die Jaar-kompetisie gee erkenning aan ’n nuwe generasie van uitnemende landbouers wat met vooruitstrewende landboustrategieë en optimisme bydra om seker te maak ek en jy het kos om te eet.
Die kompetisie skep ook die ideale platform vir jong boere uit verskillende bedryfsvertakkings om by mekaar te leer om die netwerk van kundigheid en uitnemendheid in die landbou te versterk en nóg meer van die landbou se potensiaal te ontgin.

Die beoordeling
Al die deelnemers word volgens streng kriteria beoordeel. Dit sluit in rekordhouding en finansiële kontrole, produksie-bestuur, hulpbronbewaringspraktyke, bemar¬-kings¬beleid, risiko¬¬be¬-stuur, instandhouding van implemente en toerusting, arbeidsbeleid en -praktyke, en betrokkenheid by georganiseerde landbou. Die kompetisie is dus ook ’n goeie maatstaf vir deelnemers om hul eie mededingendheid en volhoubaarheid teen ander produsente te meet.

Dit is vir Agri Wes-Kaap ’n aanwins om jongboere van hierdie kaliber as deel van ons struktuur te hê. Ons landboutoekoms is in goeie hande!

Ons wil Johann gelukwens met sy aanwysing as die Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar. Hy is baie nederig oor sy suksesse en gaan dit nog ver bring.

Agri Wes-Kaap wil ook die beoordelaars bedank wat elke jaar baie tyd afstaan om die finaliste op hul plase te besoek en die moeilike taak het om ’n wenner aan te wys. Hulle is:
• Johanné Rossouw (Agri Wes-Kaap)
• Ninon McKinnon (arbeidspesialis)
• Louis Wessels (voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie in die Wes-Kaap)
• Louis Jonker (streeksbestuurder van Santam Landbou)
• Adri Esterhuyse (Landbouekonoom van Absa).
* Carl Opperman is die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Tags: