Wes-Kaapse vrugte- en groentebedryf afhanklik van bye

Eikestadnuus, Oktober 2015

In die Wes-Kaap is heuningbye onontbeerlik vir die voortbestaan van die R20 miljard vrugte- en groentebedryf.
Maar hierdie bedryf is toenemend onder druk omdat bye se voortbestaan bedreig word.
So het Brendan Ashley Cooper, ’n kommersiële byeboer en komiteelid van die Wes-Kaapse Vereniging vir Byeboere, gesê op ’n besoek aan die kantoor van Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch. Die doel van die besoek was om as deel van Sidego se Miljoen Bome-projek te bepaal watter soort bome in Stellenbosch geplant kan word om bye te lok.
“Houtkappers, projekte om van indringerspesies ontslae te raak, houthandelaars en bergbrande is maar ’n paar bedreigings. Die bronne waar bye voeding kry word toenemend vernietig en die insekte word ook deur siektes bedreig,” het Cooper gesê.
Veral die Amerikaanse vuilbroed- of jongbysiekte, wat deur die bakterie Paenibacillus larvae veroorsaak word, het groot verwoesting gesaai onder die Kaapse bye-kolonies. Tientalle korwe is verbrand omdat vuur die mees doeltreffende manier is om van die siekte ontslae te raak.
Volgens Mike Allsopp van die Landbounavorsingsraad in Stellenbosch beleef die Wes-Kaap ’n groot krisis wat betref bestuiwingsgebiede vir bye en dit bedreig die landbousektor en daarmee saam die talle werkgeleenthede in die bedryf. Volgens hom is daar toenemend al minder natuurlike gewasse waar bye voeding kan kry.
“’n Bydraende faktor is dat talle byeboere te veel korwe het. Jy sal byvoorbeeld 600 bykolonies vind in ’n gebied waar daar net voeding is vir 200 kolonies.
“Bye het ’n diverse dieet nodig, maar daar is dikwels beperkte voedingsbronne omdat boere op duisende hektaar net een of twee soorte gewasse sal aanplant.’’
Volgens Allsopp is bloekombome uitstekend vir bestuiwing en vir nektar. Maar grootskaalse uitwissing van hierdie uitheemse boomspesie, plaas verdere druk op die voortbestaan van bye.
“Bloekombome kan wel in sekere gebiede problematies wees, maar dit kan met groot welslae aangeplant word in laagliggende dele wat gereeld deur oorstromings geteister word. Die bome se geweldige dors kan help om hierdie gebiede ‘droog’ te maak en dus oorstromings keer,” sê Allsop.
Sidego voeg by: “Om bome te plant is deel van die Stellenbosch-munisipaliteit se visie om ’n waardige omgewing vir die gebied se inwoners te skep. Stellenbosch is een van die rykste gebiede in die land, tog weet 28% van die inwoners van hierdie dorp daagliks nie waar hul volgende ete vandaan gaan kom nie.
“Ons moet alles moontlik doen om die werkgeleenthede wat reeds daar is, te beskerm en ook werkgeleenthede vir ander skep. Om bome te plant, kan ’n bydrae maak tot werkskepping. As ons die byekolonies in hierdie gebied kan beskerm, maak ons ook ’n bydrae daartoe om te keer dat bestaande werke – veral op plase – verlore gaan.”
As jy bye wil lok, plant Kaapse fynbos, aalwyne, perdestert en laventel. Ander gewasse wat aanloklik is vir bye sluit in lusern, canola, sonneblomme en sitrusbome.

Tags: