Wynboer uit Breederivier is Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar

‘n Wynboer van Robertson is Woensdagaand 23 Mei aangewys as vanjaar se Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar vir 2018. Johann de Wet (35), Hoof Uitvoerende Beampte van die Dewetshof Landgoed, dring nou deur na die nasionale ronde wat later vanjaar gehou word.

Johann, ook die voorsitter van die Chardonnay Vereniging Suid-Afrika, is tans in die buiteland en kon nie die glansgeleentheid in Durbanville bywoon nie. Hy het egter via ‘n Skype-oproep gehoor dat hy dié gesogte toekenning ingepalm het. Sy vrou, Gera, het die toekenning namens hom ontvang.

“Die kompetisie beteken so baie vir ons jongboere en die prys doen baie vir die wynindustrie. Dankie vir die groot eer,” het hy via Skype gesê.

Johann het gesê hy wil graag die ander deelnemers ontmoet om by hulle te leer oor hoe húlle boerdery benader en hulle plase bestuur. “Dit was almal sulke sterk kandidate gewees. Mens kan so baie by mekaar leer, het hy gesê.

Mnr Carl Opperman, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê omdat deelnemers volgens streng kriteria beoordeel word – soos rekordhouding en finansiële kontrole, produksiebestuur, hulpbronbewaringspraktyke, bemarkingsbeleid, risikobestuur, onderhoud van implemente en toerusting, arbeidsbeleid en -praktyke en hul betrokkenheid by georganiseerde landbou – is die kompetisie ‘n goeie maatstaf vir deelnemers om hul eie mededingendheid en volhoubaarheid teen ander produsente te meet.

“Dit is vir Agri Wes-Kaap ‘n aanwins om sulke kaliber jongboere as deel van ons struktuur te hê. Die Wes-Kaap se landboutoekoms is in goeie hande. Ons wens vir Johann baie geluk en alle sterkte toe met die nasionale kompetisie,” het hy gesê.

 

 

 

 

Tags: