Agri Securitas 2026-aansoeke nou oop

  • Post category:All

Agri Wes-Kaap doen ’n beroep op landbouverenigings en ander kwalifiserende organisasies om van die geleentheid gebruik te maak om aansoek te doen vir Agri Securitas-befondsing vir 2026.

Die Agri Securitas Trust Fund, ’n inisiatief van AgriSA, ondersteun sedert 1999 praktiese landelike veiligheidsinisiatiewe wat daarop gemik is om boerderygemeenskappe, hul lewensbestaan en eiendom beter te beskerm. Befondsing kan onder meer aangewend word vir veiligheidsinfrastruktuur en -toerusting, soos kamerastelsels, radiokommunikasie, toegangbeheer en ander landelike veiligheidsinisiatiewe.

Agri Wes-Kaap sal aansoeke van kwalifiserende organisasies aan Agri Securitas voorlê. Daar is egter ’n formele aansoekproses en vasgestelde evalueringskriteria wat gevolg moet word. Die indiening van ’n aansoek waarborg dus nie dat befondsing goedgekeur of toegeken sal word nie. Alle aansoeke word volgens die goedgekeurde kriteria geëvalueer.

Aansoekers moet die voorgeskrewe pro forma-aansoekvorm volledig voltooi en die verduidelikende gedeeltes verwyder voordat die finale aansoek ingedien word. ’n Evalueringsvorm is ook beskikbaar, waarteen aansoeke beoordeel sal word.

Volgens Agri Securitas se huidige benadering word voorkeur onder meer gegee aan landbouverenigings wat nie voorheen aansoek gedoen het nie, asook organisasies in hoërisikogebiede.

Sluitingsdatum: 7 September 2026

Agri Wes-Kaap moedig alle belangstellendes aan om vroegtydig aansoek te doen om voldoende tyd vir die voltooiing, hersiening en verwerking van dokumentasie te verseker.

Organisasies wat verdere inligting of ondersteuning met die voltooiing van die aansoek benodig, kan Agri Wes-Kaap kontak – lischka@awk.co.za