Agri Wes-Kaap het ‘n simpleks radiofrekwensie by ICASA laat registreer om boere met ‘n kommunikasiemiddel te bemagtig wat nie staatmaak op enige kragvoorsiening of selfoonsein nie. Die stelsel sal boere in staat stel om hulp te ontbied waar ook al hy of sy haar in die Wes-Kaap mag bevind. Hoewel die stelsel sy beperkings het en die omgewing die reikafstand sal bepaal, sal enige hoëfrekwensieradio ongeag fabrikaat of model, op dié registreerde kanaal met ander boere op dieselfde kanaal in die omgewing kan kommunikeer. Agri Wes-Kaap wil graag alle boere in die Wes-Kaap aanmoedig om die frekwensie op radio’s te laat installeer om ʼn sterk aanlyn kommunikasie netwerk te vestig waar boere mekaar in noodtye kan ondersteun.
Louis Wessels, Regsdienste-bestuurder by Agri Wes-Kaap, dryf reeds vir twee jaar die proses om dié inisiatief op die been te kry en meen dit was verblydende nuus toe die lisensiëring finaal goedgekeur is.
“Agri Wes-Kaap weet hoe krities betroubare en effektiewe kommunikasie tydens ʼn noodgeval is – veral in landelike gebiede waar landbougemeenskappe weerloos gelaat is weens die huidige kragkrisis. Landelike veiligheid sal altyd ʼn prioriteit vir Agri Wes-Kaap wees en die hoop is dat die radiokommunikasie veiligheid sal bevorder.”
Radio gebruikers word aangemoedig om hul diensverskaffer te versoek om die Agri Wes-Kaap frekwensie op hul hoë frekwensie radio te programmeer. Die volgende besonderhede kan aan diensverskaffers deurgegee word:
Simpleks frekwensie:: 150.0375 MHz (Tx) / 150.0375 MHz (Rx).
Tone coding: 123.0
Diensverskaffers word versoek om rekord te hou van persone op wie se radio die Agri Wes-Kaap frekwensie geprogrammeer word.
Vir enige navrae, kontak vir Louis Wessels by: louis@awk.co.za