Is jy die Wes-Kaap se Jongboer-ambassadeur vir 2024?

  • Post category:Jongboer

Inskrywingsvorms tesame met die beoordelingskriteria is hier of by plaaslike landbouverenigings beskikbaar, of u kan Agri Wes-Kaap kontak by 021 860 3801.

Inskrywings vir die Agri Wes-Kaap / Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie 2024 is nou oop! In vanjaar se soektog na die Wes-Kaap se beste jong produsent is daar groot pryse op die spel.

Volgens PF Theron, voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee, is die kompetisie ʼn uitstekende leerskool aangesien ʼn paneel van kenners waardevolle terugvoering gee, wat produsente dan weer op hul plase kan implementeer. Hy meen dis ook ʼn geleentheid vir produsente om hul plase en besighede te bemark.

Vereistes:

Die kandidaat moet 40 jaar of jonger wees op die dag wanneer die inskrywings vir die kompetisie sluit. Die sluitingsdatum is 26 April 2024.

Die kandidaat moet ook op die sluitingsdatum vir minstens een jaar lank reeds ‘n opbetaalde lid van ‘n landbouvereniging wees. Die belangrikste maatstawwe vir beoordeling hou verband met die bestuursfilosofie van die boer, sowel as die tegniese vaardigheid waarmee daardie filosofie in die praktyk toegepas word.

Alhoewel die vertakkingsamestelling en omvang van die kandidaat se boerdery-aktiwiteite in ag geneem word, is die mate waarin die boer se bestuursfilosofie op uitnemende wyse in die praktyk toegepas word meer bepalend. ‘n Kandidaat met ‘n enkele vertakking wat besonder goed presteer, staan dus ook ‘n baie goeie kans om die kompetisie te wen.

Die wenner sal die Wes-Kaap verteenwoordig wanneer die nasionale wenner van die Toyota SA / Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys word.