Die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie is tans in volle swang! Die wenner sal tydens ‘n gala-geleentheid op 1 Junie 2022 in Durbanville aangekondig word.
Vanuit die inskrywings wat ontvang is, moes deelnemers ‘n voorlegging aan ‘n span beoordelaars voorlê wat hul bestuursfilosofie en tegniese vaardighede uiteensit.
Die beoordelaars: Inus Oosthuisen, vrugteprodusent van die Koue Bokkeveld. Sas Oosthuizen, vee- en pluimveeprodusent van Wellington. Louis Wessels, vee- en saaiprodusent van Albertinia. André Bloem, Arbeidskenner. Pieter Plaatjies, Santam. Landbou-ekonome, Arno Cloete en Andries van Zyl – FNB. Jannie Strydom, landbou-ekonoom en uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
Vanaf 16 – 20 Mei het dié span beoordelaars ses deelnemers se plase gaan besoek en hoewel die vertakkingsamestelling en omvang van die kandidaat se boerdery-aktiwiteite in ag geneem was, is die mate waarin die boer se bestuursfilosofie op uitnemende wyse in die praktyk uitgevoer word eerder bepalend.
Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar 2022 deelnemers:
• Christiaan Cronje (29) het ‘n gemengde boerdery op Riversdal waar tegnologie ‘n groot rol speel. Sy toekomsvisie is om deurentyd te vernuwe en meer volhoubaar te boer. Christiaan meen die oordrag van kennis, en om die volgende generasie boere te bemoedig, is een van sy fokuspunte.
• Chris-Thys Groenewald (30) het ‘n gemengde boerdery op Riviersonderend met ‘n toekomsvisie om innoverend en winsgewend te bly boer. Chris-Thys glo in spanwerk en eerlikheid, en sê hy hoop om eendag sy kennis en passie aan die volgende generasie boere oor te dra.
• Derec Giles (40) het ‘n gemengde boerdery naby Uniondale en meen biosekuriteit is een van die boustene vir ‘n suksesvolle boerdery. Derec glo goeie beplanning en deursettingsvermoë is nodig om effektief te kan boer.
• Ian Cunningham (37) boer met sagtevrugte en wyndruiwe op Elgin en Villiersdorp. Volgens Ian werk hy aan ‘n nalatenskap wat sinoniem is met innovasie en kwaliteit, en waar elke lid van sy span hul volle potensiaal kan bereik. Die oordrag van vaardighede en kennis is ook deel van die boustene van sy boerdery.
• Kleinjan Teubes (32) het ‘n gemengde boerdery op Vredendal, en sy toekomsvisie sluit goeie finansiële- en volhoubare bestuurspraktyke in. Kleinjan wil ‘n sterk boerdery met ‘n positiewe werksomgewing vir sy nageslag agterlaat.
• Lochner Eksteen (24) boer met koring en beeste op Piketberg. Vir Lochner is boer ‘n saak van geloof, en meen alle groot besluite oor sy boerdery gaan hand aan hand met goeie beplanning en gebed.