Aansoeke vir die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie 2022 is nou oop! Dié kompetisie is ʼn hoogtepunt op vanjaar se landboukalender.
Vereistes:
• Die kandidaat moet 40 jaar of jonger wees op die dag waarop die inskrywings vir die kompetisie sluit. Die sluitingsdatum is 25 Maart 2022.
• Die kandidaat moet ook op die sluitingsdatum vir minstens een jaar lank reeds ‘n opbetaalde lid van ‘n landbouvereniging wees.
Die Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar vir 2021, Alexander Gibson, wil jong produsente graag aanmoedig om in te skryf. “Dit is belangrik dat jong produsente aan hierdie kompetisie deelneem. Jong boere het ‘n verantwoordelikheid teenoor die landbou en die land. Die ondervinding wat jy opdoen is ongelooflik en jy’t die geleentheid om ‘n verskil te maak.”
Die belangrikste maatstawwe vir beoordeling hou verband met die bestuursfilosofie van die boer sowel as die tegniese vaardigheid waarmee daardie filosofie in die praktyk toegepas word. Alhoewel die vertakkingsamestelling en omvang van die kandidaat se boerdery-aktiwiteite in ag geneem word, is die mate waarin die boer se bestuursfilosofie op uitnemende wyse in die praktyk toegepas word eerder bepalend. ‘n Kandidaat met ‘n enkele vertakking wat besonder goed presteer, staan dus ook ‘n baie goeie kans om die kompetisie te wen.
Volgens PF Theron, voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee, is daar menige jong produsente in die Wes-Kaap wat voorlopers van hul bedrywe is, en die Jongboer-kompetisie is ‘n guldige geleentheid om hul staal te wys.
Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, meen die kompetisie gee ook erkenning aan jong produsente met uitsonderlike vaardighede, en wil daarom graag alle vernuftige jong produsente aanmoedig om hul hoed in die ring te gooi.
“Die Wes-Kaap se jong produsente maak my opgewonde en positief vir die toekoms. Dit is die manne en vroue wat die leisels moet oorneem. Jong produsente speel ʼn deurslaggewende rol in die toekoms van landbou.”
Die wenner sal die Wes-Kaap verteenwoordig wanneer die nasionale wenner van die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar kompetisie aangewys word. Inskrywingsvorms met die beoordelingskriteria is hier beskikbaar of kontak ons gerus by 021 860 3801.