Deur Daniël Minnaar
INFLASIE:
Die jaarlikse verbruikersprysinflasie het in September tot 7.5% verlangsaam vanaf 7.6% in Augustus. Na die inflasiekoers in Julie ‘n 13-jaar hoogtepunt van 7.8% aangeteken het, blyk dit of dié koers ‘n draaipunt bereik het. Die koers vir September is egter steeds bo die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6%, en is die 17 agtereenvolgende maand waarin die koers hoër as die middelpunt (4.5%) van die teikenband is. Die inflasiekoers was weereens hoofsaaklik gedryf deur die kategorieë voedsel en nie-alkoholiese drinkgoed, en vervoer.
Verbruikerspryse van voedsel en nie-alkoholiese drinkgoed het in September met 11.9% jaar-op-jaar duurder geword en het 2 persentasiepunte tot die inflasiekoers van 7.5% bygedra. Dié kategorie was hoofsaaklik gedryf deur Brood en Grane (3.6 persentasiepunte); gevolg deur Vleis (3.1 persentasiepunte); en Melk, eiers en kaas (1.3 persentasiepunte).
Verder het die kategorie vervoer in September met 17.9% jaar-op-jaar duurder geword en het 2.5 persentasiepunte tot die algehele koers bygedra. Hoewel die kategorie van vervoer steeds hoog is, het die koers waarteen die kategorie gestyg het ook verlangsaam. In Augustus en Julie was die kategorie onderskeidelik 25% en 21.2% jaar-op-jaar duurder. In dié kategorie het brandstof met 34.1%, en publieke vervoer met 22.1%, op ‘n jaargrondslag duurder geword.
BRANDSTOF:
Brandstofpryse in Suid-Afrika sal na verwagting volgende week styg, aangesien die rand onder druk is, en oliepryse hoog bly.
Die Sentrale Energiefonds se nuutste syfers (24 Oktober) dui op ‘n moontlike verhoging van 56 sent per liter vir petrol en ongeveer R1.61 per liter vir diesel. Daar is verder die week kommer uitgespreek oor ‘n ernstige risiko van brandstoftekorte vir die land gegewe die ontwrigting in die brandstofvoorsieningsketting. Die kommer was uitgespreek in die nadraai van die onlangse Transnet-stakings. Hoewel die stakings verby is met Transnet-werknemers wat Vrydag, 21 Oktober hul operasies hervat het, het die stakings ‘n enorme agterstand in die hawens en vervoernertwerke geskep. Terwyl dit maande mag neem om die onmiddellike agterstand aan te spreek, sal die voorsiening van geraffineerde brandstof ‘n risiko vir die land se brandstofvoorraadvlakke inhou.
‘n Moontlike brandstofkrisis het Suid-Afrika egter reeds gedreig nog voor die stakings begin het, met lughawens wat onlangs lugrederye gewaarsku het teen brandstofrantsoenering en Eskom ook sy kommer uitgespreek het oor sy vermoë om genoeg diesel vir sy kragopwekkers te bekom.Voor die stakings het die ontwrigtings in die verskaffing van geraffineerde brandstof hoofsaaklik gespruit uit die tekort aan raffineringskapasiteit. Met twee olie-raffinaderye in Durban, Sapref en Genref, wat onlangs gesluit het, is slegs Natref, in Sasolburg, tans operasioneel. Sasol se sintetiese brandstofbedrywighede, wat steenkool gebruik, is ook operasioneel, maar is vir slegs ‘n klein gedeelte van Suid-Afrika se kapasiteit verantwoordelik. Suid-Afrika sal daarom vir die afsienbare toekoms moet staatmaak op die invoer van geraffineerde brandstof in stede van ruolie tot en met genoegsame vervaardigingskapasiteit geskep is. In die tussentyd is dit deurslaggewend dat die staat sy vinger op die voorsieningsketting-pols, en spesifiek die agterstand by Transnet, moet hou.