EconoView – September 2022

  • Post category:EconoView

deur Daniël Minnaar

RENTEKOERS

Die Monetêre Beleidskomitee het verlede week (22 September) aangekondig dat die repokoers (die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke uitleen) met 75 basispunte verhoog tot 6,25%. Die verhoging bring die prima-uitleenkoers van handelsbanke op 9,75% te staan.

Dit is die sesde agtereenvolgende styging sedert die begin van November 2021 toe die repokoers 3,5% was. Die repokoers van 3,5% wat tussen 24 Julie 2020 en 18 November 2021 geheers het, was die laagste koers sedert 1973 toe die koers vir drie maande lank 3,15% was.

Sedert 2021 het die Suid-Afrikaanse inflasiekoers egter skerp toegeneem, wat die SARB genoop het om ‘n inkrimpende monetêre beleid toe te pas.

‘n Inkrimpende monetêre beleid word wêreldwyd beskou as die voorkeurbeleid om inflasie te beheer. Die doel van die beleid is om die geldvoorraad van ‘n gegewe ekonomie te verminder deur rentekoerse te verhoog en daardeur inflasie te onderdruk.

Rentekoersverhogings was daarom te verwagte namate die inflasiekoers begin toeneem het.

‘n Hoër inflasiekoers kan verder ook na ‘n negatiewe reële rentekoers lei – dit is wanneer die repokoers minus die inflasiekoers negatief is. Histories is die SARB nie ten gunste daarvan om die reële rentekoers vir te lank negatief te laat nie (sien grafiek).

Tydens Gill Marcus se termyn as president van die SARB, was die reële rentekoers egter gereeld negatief. Marcus se termyn het van 2009 tot November 2014 gestrek voordat die huidige president, Lesetja Kganyago, die leisels by haar oorgeneem het. As daar na Kganyago se termyn gekyk word (volg die geel lyn op die grafiek) wil dit voorkom asof hy minder geneig is om hierdie koers negatief te laat. Indien die geskiedenis homself herhaal, gaan die SARB waarskynlik die rentekoers op 24 November vanjaar, wanneer die Monetêre Beleidskomitee hul volgende sitting het, verder verhoog.

Aan die buitelandse beleggingsfront is daar ook gronde vir die Reserwebank om rentekoerse vanjaar verder te verhoog. Die Federale Reserweraad van Amerika het verlede week ook sy rentekoers met 75 basispunte verhoog. Dié verhoging kan beleggings in ontluikende markte soos Suid-Afrika minder aanloklik maak.

Indien beleggers hul geld uit die Suid-Afrikaanse mark onttrek weens die aanloklikheid van hoër VSA rentekoerse mag dit lei tot ‘n verswakte wisselkoers. Dít sal lei tot, onder andere, druk op plaaslike brandstofpryse, wat dan weer druk sal plaas op Suid-Afrika se inflasie.

Die Monetêre Beleidskomitee se taak om rentekoerse te bepaal is daarom nie so eenvoudig nie.

Die hoë rentekoers het nietemin geweldige nagevolge vir die landbousektor. Gegewe die skerp stygings in insetkostes in die afgelope tyd, het baie produsente ‘n groter behoefte aan produksiekrediet. Volgens prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom, is die nuutste landbouskuldsyfer vir Junie 2022 ongeveer R200 miljard. Dus vir elke persentasiepunt wat die rentekoers styg, kos dit die landboubedryf R2 miljard ekstra aan rente.

INFLASIE

Die jaarlikse inflasiekoers, soos gemeet deur die verbruikersprysindeks (VPI), het in Augustus verlangsaam vanaf 7,8%, ‘n 13-jaar hoogtepunt in Julie, tot 7,6%. Augustus is egter steeds die 16de agtereenvolgende maand waarin die koers hoër as die middelpunt (4,5%) van die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% is.

Die inflasiekoers was weereens hoofsaaklik gedryf deur die kategorieë (1) voedsel en nie-alkoholiese drinkgoed, (2) behuising en nutsdienste, en (3) vervoer.

Die inflasiekoers vir voedsel en nie-alkoholiese drinkgoed was 11,3% in Augustus, en het 1,9 persentasiepunte tot die algehele koers van 7,6% bygedra.

Die koers vir voedsel en nie-alkoholiese drinkgoed vir Augustus was effens laer in die Wes-Kaap op 10,1% vergeleke met ‘n jaarlikse koers van 11,6% op nasionale vlak.

Op ‘n jaargrondslag ervaar Wes-Kaapse verbruikers in alle voedselkategorieë ‘n laer inflasiekoers vergeleke met nasionale verbruikers. Maand-op-maand ervaar Wes-Kaapse verbruikers egter in die kategorieë van olies en vette (2,4%) en groente (2,7%) ‘n hoër inflasiekoers as nasionale verbruikers.

Die koste van kategorie behuising en nutsdienste het met 4% gestyg en 1 persentasiepunt tot die algehele jaarlikse inflasiekoers van 7,6% bygedra.

Verder het die kategorie vervoer in Augustus met 21,2% jaar-op-jaar duurder geword en het 2,9 persentasiepunte tot die algehele koers bygedra. In dié kategorie het brandstof met 43,2%, en publieke vervoer met 23,6%, op ‘n jaargrondslag duurder geword. Hoewel die kategorie van vervoer steeds hoog is, het die koers waarteen die kategorie gestyg het ook verlangsaam. In Julie het die kategorie met 25% jaar-op-jaar duurder geword en het 3,4 persentasiepunte tot die algehele koers bygedra.

BRANDSTOFPRYSE

Die Sentrale Energiefonds se nuutste syfers bring goeie nuus vir motoriste wat van petrol gebruik maak, met ‘n gemiddelde oorverhaling van R1,09 per liter 95-oktaan petrol vir September. Die syfers vir dieselverbruikers bring egter mindere goeie nuus, met ‘n onderverhaling van 8 sent per liter vir diesel met ‘n swael-inhoud van 0,05% en 14 sent per liter vir diesel met ‘n swael-inhoud van 0,005%.