Deur Daniël Minnaar
Rentekoers
Die Monetêre Beleidskomitee het in sy laaste sitting van die jaar die repokoers met 75 basispunte verhoog tot 7%. Dit bring die prima uitleenkoers op 10,5% te staan.
Dié koersverhoging bring mee dat landbouprodusente weereens meer sal moet betaal om hul skuld te delg. Te midde van uitermatige hoë insetkoste sal dié toename in finansieringskoste verdere druk op die landbousektor plaas.
Die rentekoers se onmiddellike vooruitsigte blyk egter ook nie gunstig te wees nie. Gegewe die inflasiekoers wat steeds hoog én buite die Reserwebank se teikenband van 3% – 6% is, gaan die rentekoers waarskynlik tydens die volgende komiteesitting in Januarie verder verhoog. Die aanduidings is dat die repokoers in Januarie met 25 basispunte tot ‘n piek van 7,25% verhoog gaan word.
Inflasiekoers
Die gemiddelde verbruiker het in Oktober vanjaar 7,6% meer vir basiese goedere en dienste betaal. Dit is effens hoër as die koers van September, toe verbruikersprys inflasie ‘n koers van 7,5% behaal het.
Die inflasiekoers was grootliks gedryf deur die kategorie voedsel en nie-alkoholiese drinkgoed. Dié kategorie was in Oktober 12% duurder as ‘n jaar gelede en het 2,1 persentasiepunte tot die inflasiekoers van 7,6% bygedra.
Olies en vette (25,7%); brood en grane (19,5%); vleis (10,5%); en melk, eiers en kaas (10,5%) is van die voedselsoorte wat op ‘n jaargrondslag aansienlik duurder geword het.
Die kategorie van vervoer het ook aansienlik, met 2.4 persentasiepunte, tot die inflasiekoers van 7,6% bygedra. Dié kategorie was in Oktober 17,1% duurder as ‘n jaar gelede. In dié kategorie het publieke vervoer met 23,3%, en private vervoer met 25,5% duurder geword. Vervoerkoste was hoofsaaklik gedryf deur die styging in brandstofpryse. In Oktober 2022 was brandstof gemiddeld 30% duurder as ‘n jaar gelede.
Werkloosheid
Indiensname, soos gemeet deur Statistieke Suid-Afrika, het in die derde kwartaal vanjaar verbeter. Tussen Julie en September was daar 1.48 miljoen meer mense in diens geneem vergeleke met dieselfde periode verlede jaar. Dit verteenwoordig ‘n jaarlikse toename van 10,4% en bring die hoeveelheid persone wat ‘n werk het op 15.76 miljoen te staan.
Indiensname in die Wes-Kaap het op ‘n jaargrondslag met 9.1%, oftewel 203 000 werksgeleenthede, toegeneem. Die provinsie se werkloosheidskoers het met 3% afgeneem – van 27.5% in die tweede kwartaal tot 24.5% in die derde kwartaal – en is die laagste werkloosheidskoers van alle provinsies.
Indiensname in die landbousektor het ook verbeter. Tussen Julie en September 2022 was daar op ‘n nasionale vlak 43 000 meer persone in dié sektor werksaam. Dit verteenwoordig ‘n 5,2% toename en bring die hoeveelheid persone werksaam in dié sektor op 873 000 te staan.
Landbou-indiensname in die Wes-Kaap het tussen die tweede en derde kwartaal met 8%, oftewel 16 000 werksgeleenthede, toegeneem. Op ‘n jaargrondslag het die Wes-Kaapse landbou-indiensname met 6 000 werksgeleenthede, oftewel 3%, toegeneem.