Deur Daniël Minnaar
Inflasie
Die jaarlikse inflasiekoers het effens afgeneem vanaf 7,4% in November tot 7,2% in Desember. Die grootste bydraer tot dié koers was weereens voedsel en nie-alkoholiese drinkgoed, wat 12,4% jaar-op-jaar duurder was, en 2,1 persentasiepunte tot die algehele inflasiekoers van 7,2% bygedra het.
Terwyl voedselpryse wêreldwyd steeds afneem, het die Reserwebank sy verwagtinge vir plaaslike voedselprysinflasie weer opwaarts hersien, deels as gevolg van die vertraagde impak van die swakker wisselkoers.
In 2022, het voedselprysinflasie 9,2% beloop. Die Reserwebank voorspel nou dat voedselpryse in 2023 met 7,3% (opwaarts hersien vanaf 6,2%), en in 2024 met 4,4% (opwaarts vanaf 4,2%) gaan toeneem.
Rentekoers
Die Monetêre Beleidskomitee het in sy eerste sitting van die jaar die repokoers met 25 basispunte tot 7,25% verhoog. Dit bring die prima uitleenkoers op 10,75% te staan. Dit is die agtste agtereenvolgende sitting van die komitee waarop die rentekoers verhoog is.
Twee komiteelede het vir ‘n 50-basispunt verhoging gestem, terwyl die ander drie vir ‘n 25-punt verhoging gestem het.
Die rampspoedige impak van beurtkrag op die Suid-Afrikaanse ekonomie het die komitee genoop om sy ekonomiese groei verwagtinge vir 2023 na ‘n skokkende 0,3% aan te pas. Lesetja Kganyago, President van die Reserwebank, sê in ‘n verklaring dat tot twee persentasiepunte van 2023 se verwagte ekonomiese groeikoers afgetrek is as gevolg van die land se kragkrisis.
Gegewe die inflasiekoers wat steeds hoog is én buite die Reserwebank se teikenband van 3% – 6% val, is die verwagting dat die rentekoers moontlik tydens die volgende komiteesitting in Maart met ‘n verdere 25 basispunte verhoog gaan word.
Brandstof
Die landbousektor moet hulself gereed maak vir ‘n brandstofprysverhoging in Februarie, aldus die nuutste data gepubliseer deur die Sentrale Energiefonds (SEF).
Die prys van 95-oktaan petrol sal na verwagting met 52 sent per liter styg, terwyl die prys van diesel met tussen 22c en 33c per liter mag verhoog. Paraffien sal na verwagtinge 38c per liter duurder word.
Enige verhoging in die brandstofprys kom op ‘n slegte tyd vir die landbousektor wat tans staatmaak op dieselaangedrewe kragopwekkers tydens die kragkrisis.
Damvlakke
Die Wes-Kaap se gemiddelde damvlakke is steeds aan die afneem en staan tans (23/01/2023) op 56,3%. Dit is 20% laer as ‘n jaar gelede toe die gemiddelde vlak op 76,3% gestaan het.