BEGROTINGSREDE 2022: AGRI WES-KAAP SE VERWAGTINGE

Vanjaar se staatsrede het sterk klem gelê op die uitdagings wat tans hewige druk op die landbousektor plaas, en Agri Wes-Kaap hoop dat Minister Enoch Godongwana tydens sy begrotingsrede ook die nodige aandag aan landboukwessies sal gee. Agri Wes-Kaap verwag die volgende in minister Godongwana se toespraak:

1. Belastingkoerse

a.) Brandstofheffing
Brandstof, wat een van die grootste insetkostes in primêre landbouproduksie is, asook ‘n enorme koste-komponent in die breër landbou-waardeketting, het oor die afgelope jaar buitensporig duur geword. Agri Wes-Kaap hoop daarom dat die minister Woensdag gaan afkondig dat die algemene brandstofheffing en die padongelukfonds heffing nie wéér verhoog sal word nie.
“Primêre landbou produsente kan nie ‘n verhoging in die algemene brandstofheffing en padongeluksfondsheffing bekostig nie. Ons doen daarom ‘n beroep op die minister dat die heffings vanjaar nie verder verhoog word nie,” sê Mnr Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

b.) Aksynsbelasting op alkohol
Die wynbedryf is tans besig om te herstel van die impak wat die plaaslike drankverbod en reisbeperkings op die bedryf se inkomstestrome gehad het.

“Agri Wes-Kaap hoop dat die minister rede sal insien om nie wéér aksynsbelasting, wat verlede jaar met 8% toegeneem het vir wyn, vonkelwyn en brandewyn, vanjaar verder te verhoog nie,” sê Mnr. Strydom.

c.) Maatskappyebelasting
Tydens verlede jaar se begrotingsrede het die voormalige minister van finansies, Tito Mbeweni, aangekondig dat maatskappybelasting in April vanjaar van 28% tot 27% gaan verlaag in ‘n poging om meer private beleggings te lok. Die voorwaarde vir dié verlaging was dat maatskappye beperk gaan word op hoe geraamde verliese of besteding op rente benut kan word om hul belastingaanspreeklikheid te verminder.

Agri Wes-Kaap is uiters bekommerd oor veral artikel 20 van hierdie wysiging wat behels dat aangeslane verliese van een jaar beperk sou word in die volgende belastingjaar. Volgens Mnr Strydom is landbou siklies van aard, en ervaar gereeld tye waar onbeheerbare omstandighede lei tot verliese. “Indien hierdie wysigings geïmplementeer word, sal slegs 80% van die verliese teen toekomstige winste aangeslaan kan word. Dit sal die sektor se vermoë om te herstel na sikliese gebeurtenisse aansienlik verminder”.
“Agri Wes-Kaap hoop daarom dat hierdie wysiging nie in die komende finansiële jaar geïmplementeer word nie en beveel aan dat daar eers wyer gekonsulteer word om die omvang van hierdie wysigings te verstaan,” sê Mnr Strydom.

2. Risiko- en ramphulp
Die Nasionale Rampbestuur Sentrum in Julie 2021 die droogte wat talle produsente van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap geknou het as ‘n nasionale ramp verklaar. Dit is egter steeds onduidelik wat die omvang en formaat van ondersteuning aan die droogtegeteisterde gebiede gaan wees. Agri Wes-Kaap hoop daarom dat Minister Godongwana goeie nuus in hierdie verband sal hê.

3. Infrastruktuur en veiligheid

Tydens President Cyril Ramaphosa se staatsrede was daar menige sprake van ingrypings om infrastruktuur aangeleenthede in Suid-Afrika aan te spreek. Agri Wes-Kaap het onder andere die beoogde ingrypings in Eskom, Kaapstad se hawe, Transnet se spoorweë asook die padnetwerk verwelkom, maar hoop nou dat verdere ondersteuning in die begrotingsrede aangekondig gaan word.
Agri Wes-Kaap sien verder ook uit na die finansiële ondersteuning wat daar aan die opleiding en aanstellings van 12 000 addisionele polisielede gegee gaan word, soos beloof in President Ramaphosa se staatsrede.