Agri Wes-Kaap is positief oor die uitkoms van vanjaar se begrotingsrede weens die menige landboukwessies wat minister Enoch Gondwana aangeraak het. Volgens die minister, is die hoop met vanjaar se begroting om broodnodige ekonomiese groei te bevorder. Agri Wes-Kaap is van mening dat die investering in die landbou ʼn kritiese rol in ekonomiese groei speel.
Belastingkoerse
a.) Brandstofheffing
Brandstof, wat een van die grootste insetkoste in primêre landbouproduksie is, asook ‘n enorme koste-komponent in die breër landbou-waardeketting, het oor die afgelope jaar buitensporig duur geword. Agri Wes-Kaap is daarom verlig dat die algemene brandstofheffing en die padongeluksfondsheffing nie wéér verhoog gaan word nie.
“Agri Wes-Kaap verwelkom ook die aankondiging dat die huidige prysmodel vir brandstofpryse hersien sal word,” sê Mnr Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
b.) Aksynsbelasting op alkohol
Die wynbedryf is tans besig om te herstel van die impak wat die plaaslike drankverbod en reisbeperkings op die bedryf se inkomstestrome gehad het.
“Agri Wes-Kaap is dankbaar dat die verhoging in aksynsbelasting in lyn met inflasie is,” voer Mnr Strydom aan.
Infrastruktuur en veiligheid
Tydens President Cyril Ramaphosa se staatsrede was daar menige sprake van ingrypings om infrastruktuur aangeleenthede in Suid-Afrika aan te spreek. Agri Wes-Kaap verwelkom die ondersteuning wat daar in die begrotingsrede aangekondig is om hierdie projekte te finansier.
Eskom se skuldvlakke is steeds ‘n groot bekommernis vir Agri Wes-Kaap. Hoewel daar ‘n addisionele R88 miljard tot 2025/26 aan die nutsmaatskappy bewillig is om sy skuldvlakke te konsolideer, is Agri Wes-Kaap bemoedig deur die minister se verwagting van Eskom om daadwerklike aksies te implementeer om kostebeheer te verbeter. Dit is verder verblydend om te hoor dat die Nasionale Tesourie aan ‘n volhoubare oplossing werk om Eskom se skuld te hanteer op ‘n wyse wat billik en regverdig teenoor alle belanghebbendes is.
“Agri Wes-Kaap is dankbaar vir die addisionele R9.9 miljard wat daar aan SANRAL geallokeer is vir die instandhouding van die nie-tolpadnetwerk,” sê Mnr Strydom.
Hy voer verder aan: “Minister Godongwana se aankondiging dat daar inisiatiewe oor die mediumtermyn geloods gaan word om die doeltreffendheid van hawens te verbeter asook spoorweë se kapasiteit uit te brei, is goeie nuus vir die landbousektor.”
Hierdie inisiatiewe sluit onder andere derdepartytoegang in en sal beoog om Transnet se logistieke uitdagings – insluitend lokomotiefbeskikbaarheid, kabeldiefstal, spoorvandalisme en hawevertragings – aan te spreek.
Agri Wes-Kaap is veral positief oor die R2.1 miljard wat daar bewillig is vir die verhoging van die Clanwilliam damwal en vertrou dat die addisionele fondse die voltooiing van die projek sal versnel.
Agri Wes-Kaap verwelkom verder die aankondiging van R8.7 miljard wat tot die polisie se begroting toegevoeg is. “Landelike veiligheid is vir Agri Wes-Kaap uiters belangrik en daarom verwelkom ons die addisionele fondse wat daar aan die polisie beloof is,” sê Mnr Strydom. Hy voer verder aan dat Agri Wes-Kaap vertrou dat die fondse onder andere gebruik sal word vir die opleiding en aanstellings van 12 000 addisionele polisielede, soos beloof in President Ramaphosa se staatsrede.
Die bewilliging van R1.3 miljard aan die Landbouproduksie-, Biosekuriteit- en Hulpbronbestuursprogram in die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling vir onder andere biosekuriteit is ook goeie nuus vir die sektor.
“Ons is dankbaar dat soveel landboukwessies die nodige aandag sal geniet,” sluit Mnr Strydom af.