Begrotingsraamwerk bemoedigend, maar implementering nou krities

Agri Wes-Kaap (AWK) is optimisties oor Enoch Godongwana, minister van finansies, se aankondiging dat die regering Eskom se skuldlas van R400 miljard sal help verlig. Hoewel die totale bedrag wat op staatsboeke gaan lê eers later bekend gemaak sal word, is die hoop dat ʼn laer skuldlas vir Eskom moontlik in staat gaan stel om aandag aan instandhouding en investering in kritiese transmissie-infrastruktuur te kan gee. ‘n Laer skuldlas kan die implementering van die ontbondelingsproses ook versnel. AWK verwelkom die minister se standpunt dat Eskom die grootste risiko vir die ekonomie inhou, maar weet ook dat implementering deurslaggewend gaan wees.

AWK verwelkom ook die aankondiging dat R5.8 miljard aan Transnet toegeken is om infrastruktuur te herstel wat deur die onlangse vloede beskadig is en om vragspoorlokomotiewe te herstel en in stand te hou. Oplossings tot Transnet se uitdagings gaan egter veel meer as dié reddingsboei verg, en daarom is dit verblydend om te verneem van die aksies wat Minister Godongwana ter tafel gelê het. Die korporatisering van Transnet Nasionale Hawe-owerheid, wat as ‘n belangrike eerste stap in die verhoging van die mededingendheid van Suid-Afrika se hawens beskou word, sowel as die nastrewing van derde-party toegang tot die vragspoornetwerk, word verwelkom. AWK doen egter ‘n beroep op die regering om die implimentering van aksies by Transnet as ‘n kern prioriteit te beskou aangesien die dienste wat Transnet lewer van groot belang vir die landbousektor is.

Verder is die aanstelling van nog 15 000 polisiekonstabels oor die volgende drie jaar ook bemoedigend aangesien landelike veiligheid vir AWK ‘n sleutel prioriteit is.

AWK verwelkom ook die R289.96 miljoen wat aan rampverligting vir die Wes-Kaap toegestaan is. Die Wes-Kaap se landbousektor gaan steeds gebuk onder rampe en verligting vir veral die droogtegeteisterde gebiede word steeds dringend benodig, en vertrou AWK dat ʼn gedeelte van dié bedrag na die landbousektor gekanaliseer sal word.

“Hoewel AWK die minister se begrotingsraamwerk vir die landbou verwelkom, is die implementering van besluite krities. Die landsbousektor kan nie grootpraat tans bekostig nie,” meen Jannie Strydom, uitvoerend hoof van Agri Wes-Kaap.