Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het Donderdagmiddag aangekondig dat hy ‘n tariefverhoging van 9,61% vir die 2022/23 tariefjaar aan Eskom toegestaan het.
Hoewel die verhoging veel laer as Eskom se aansoek van 20,5% is, is dit steeds ver bo inflasie. “Agri Wes-Kaap is verlig dat Eskom se aansoek van 20,5% nie toegestaan is nie, maar is bevrees dat die verhoging steeds te hoog is,” sê Mnr Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap.
“Landbouprodusente moes oor die afgelope jaar menige bo-inflasie stygings in insetkostes absorbeer. Agri Wes-Kaap is bekommerd dat die verhoging van byna 10%, wat verder sal bydra tot die kosteknyptang-situasie, produsente se vermoë om volhoubaar te produseer sal belemmer,” voer hy verder aan.
Die tariefverhoging bestaan uit ‘n verhoging van 3,49% vir sy toelaatbare inkomste vir die 2022/23 tariefjaar, plus terugwerkende inkomste van R293 miljard, wat die verhoging op 9,61% te staan bring.
Dié tariefverhoging is van toepassing op Eskom se direkte kliënte en sal op 1 April in werking tree, terwyl die verhoging vir munisipale kliënte eers op 1 Julie in werking sal tree. Munisipaliteite het nou die geleentheid om aansoek vir ‘n tariefverhoging te doen en sal waarskynlik ‘n toeslag vir hul kliënte byvoeg. Nersa sal voor 15 Maart die kleinhandelprys moet goedkeur.