Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het vandag aangekondig dat ‘n tariefverhoging van 18.65% vir die 2023/24 tariefjaar aan Eskom toegestaan is.
Hoewel die verhoging laer is as Eskom se aansoek, is 18.65% ondraaglik.
“Dit is ‘n drastiese styging aan tariewe vir kragvoorsiening wat uiters onbetroubaar is. Verbruikers betaal dus meer vir minder krag,” sê Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap (AWK).
AWK het tydens die openbare verhoor pertinent beklemtoon dat landbou nie ‘n tariefverhoging bo inflasie kan bekostig nie.
“Landboubedrywe se energiebehoeftes bly dieselfde ongeag die elektrisiteitstarief. Produsente word nou genoop om in alternatiewe elektrisiteitsbronne te investeer, wat enorme kapitaal verg,” voer Strydom verder aan.
Dié tariefverhoging is van toepassing op Eskom se direkte kliënte en sal op 1 April 2023 in werking tree, terwyl die verhoging vir munisipale kliënte eers op 1 Julie 2023 in werking tree. Munisipaliteite het nou die geleentheid om aansoek vir ‘n tariefverhoging te doen en sal waarskynlik ‘n toeslag vir hul kliënte byvoeg.
“Voedselsekuriteit kan nie alleenlik op die skouers van produsente rus nie. Voedselproduksie is tans onder geweldige druk, en besluitnemers sal die erns van die saak moet besef – dringende ingryping is nodig,” sê Strydom.